kategorieë: Ons mense

Bobby van Jaarsveld – ‘Alles is net genade’

2016 is ’n groot jaar vir Bobby van Jaarsveld (29). Aan die einde van verlede jaar (2015) het hy tien baie suksesvolle jare in die mededingende Afrikaanse musiekbedryf gevier, en hy is tans een van die kykers se gunsteling-beoordelaars op M-Net se realiteitsreeks The Voice.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Maar die belangrikste van alles vir dié gesinsman, is die geboorte van nog ’n Van Jaarsveldjie. Hy en sy vrou, Annatjie, met wie hy al van skooldae af uitgaan, kon nie wag dat hul dogtertjie haar opwagting maak nie. Hul seuns, Sion (4) en Leben (3), was ewe opgewonde.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Ouerskap is waarvoor ek geroep is,” vertel hy oor ’n bord soesji. Om pa te word was die Here se manier om hom te laat grootword, skerts hy. “Die besef dat ’n mens so ’n groot invloed op iemand se lewe het, is eintlik op ’n manier scary.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Maar hy wil daar wees om sy kinders alles te leer wat hulle sal nodig hê op hul lewenspad. “Ek wil hê my kinders moet by my leer hoe ’n man van God lewe. Ek wil die beste man en pa wees wat ek kan. Ek en Annatjie voel dat ons belangrikste taak op aarde is om ons kinders te help om te word waarvoor God hulle geroep het. As jy buite jou roeping leef, is dit moeilik.”

Hy het nie ’n idee wat sy manne eendag sal wil word nie, maar hy en Annatjie sal hulle ondersteun in wat hulle ook al wil doen. “Hulle is albei baie slim. Ek sal graag wil hê hulle moet gaan studeer, want ek is spyt ek het dit nie gedoen nie.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dink hy hulle gaan soos hy en sy suster, Karlien, musiekloopbane kies? “Hulle love musiek,” vertel hy entoesiasties. “Ons het vir hulle speelkitaartjies en mikrofone gekoop, en hulle is op hulle gelukkigste agter die mikrofoon. Hulle sing vir die vale. Ek dink nie hulle is bang vir die verhoog nie. As ek iewers optree en hulle is by, wil hulle heeltyd op die verhoog klim.”

Hy beskerm sy gesin se privaatheid soos ’n beer sy kleintjies, en hy en Annatjie het gekies om hul kinders weg van die kollig groot te maak. Hy laat nie toe dat die media foto’s van sy kinders publiseer nie. Hulle het al duur lesse geleer.

“Sosiale media laat mense dink hulle het die reg om enigiets oor iemand anders te sê. Mense lewer kommentaar op alles: hoe jou vrou lyk, watter soort ma sy is, wat hulle van jou kinders dink … Jy sal nie glo watse soort boodskappe en kommentare jy soms op sosiale media kry nie. Ek kan dit hanteer, maar ek gaan nie toelaat dat my kinders en my vrou seerkry nie.”

Hy is ’n baie betrokke pa. “Ek het my seuns se heel eerste doeke geruil. Die eerste twee nagte van sy lewe het ek langs Sion se broeikassie geslaap, te bang hy kom iets oor.” Sy gunstelingtyd is saam met sy gesin, en hy en die seuntjies baljaar behoorlik. “Maar ek is ook nogal ’n kwaai pa. Ek hou van reëls.”

Aard enige van die manne na hom?

“Annatjie sal vir jou vertel Leben aard na my,” sê hy laggend. “Leben dink nie, hy doen net! As hy van ’n ding wil afspring, spring hy. Sion is die denker. Voordat hy spring, sal hy sake eers mooi uitkyk en ’n paar berekeninge in sy kop maak.”

Hy wil niks verklap oor die dogtertjie wat vroeg in Maart haar opwagting behoort te maak nie. Het hulle al ’n naam? “Ons oor- weeg ’n paar,” is al wat hy bereid is om te sê. Maar sy opgewon-denheid oor hierdie nuwe hoofstuk wat nou vir hom en Annatjie aanbreek, is tasbaar.

Dis ook duidelik dat hy nog net so mal is oor sy Annatjie as toe hulle ses jaar gelede getroud is.

“Annatjie is nie ’n mediamens nie – sy is ontsettend privaat. Mense interpreteer dit dikwels verkeerd. Ek kan jou belowe sy is glad nie op haar mond geval nie en is vrek snaaks as sy tussen mense is wat sy ken.”

Buite die boks

Ons gesels oor die baie gewilde The Voice. Kykers ontmoet hierin ’n ander kant van Bobby, een wat spontaan opspring om deelnemers drukkies te gee en wat van opgewondenheid sommer reg bo-oor die stemknoppie voor sy stoel gespring het toe ’n deelnemer hom as stemafrigter gekies het.

“Jis, ek was maar skrikkerig vir die Engels,” skerts hy. “Maar om deel daarvan te wees, is nóg groter en lekkerder as wat ek gedink het dit sal wees.”

Hy praat sommer vinniger wanneer hy vertel van al die talent waarmee die vier beoordelaars reeds die afgelope twee maande te doen kry. “Partykeer wou ek sommer huil, so mooi sing die mense. Onthou, almal wat by ons beland, kán sing. Meer as vierduisend mense het aan die eerste oudisies deelgeneem en uiteindelik is omtrent 150 gekies waaruit ons moes kies. Terwyl ek daar sit en my verstom aan mense se talent, dink ek: Waar was jy heeltyd? Hoekom hoor ons nou eers jou stem? ”

Dis vir hom lekker dat dit ’n positiewe program is waar mense aangemoedig word om hul talent te ontwikkel. “As jy negatiewe en venynige kommentaar op die deelnemer wil lewer, is jy op die verkeerde show.”

Hy geniet dit om saam met sy medebeoordelaars (Karen Zoid, Lira en Kahn van The Parlotones) te werk.

“Ons is ’n heerlike span en het baie pret. Almal het sterk persoonlikhede en ek kan jou verseker die kompetisie deur die hele reeks is sterk. Ons het reeds twee maande se verfilm-ing agter die rug. Kykers kan na ’n heerlike reeks uitsien. En ek is mal oor daardie draai- stoel – ek wens ek kan hom huis toe vat!”

The Voice het hom as mens laat groei.

“Ek is nie eintlik ’n ekstrovert nie, en die program het my uit my gemak-sone gedruk. Ek is in elk geval nie mal oor TV-kameras nie, maar ná tien jaar in die bedryf is ek nou al meer op my gemak voor ’n kamera. Die reeks het my gedwing om nog meer buite die boks op te tree.”

Twee dae ná ons onderhoud moet hy poliepe aan sy stembande laat uitsny. Dis maar deel van die beroep, verduidelik hy. Hy sal drie weke lank tjoepstil moet wees, maar sal hopelik sy stem terughê teen die tyd dat sy dogtertjie gebore word. En natuurlik net betyds vir die regstreekse uitsendings van The Voice, wat vir April en Mei geskeduleer is.

Geloof, sukses en genade

Bobby het sy musiekloopbaan begin met ’n Desembertoer saam met Dozi en sy orkes. Dozi het hom toe die geleentheid gegee om voor elke vertoning ’n paar liedjies te sing. Ná die vakansie het Dozi vir Blackie Swart van Bobby vertel en Blackie het vir Bobby sy eerste opnamekontrak gegee. Daarna het Bobby onder andere saam met Robbie Wessels, Theuns Jordaan en Emo Adams getoer. En so het alles begin.

Deesdae werk hy ten nouste saam met die Coleske-broers. In die afgelope tien jaar is hy al ’n yslike 32 keer bekroon met pryse wat wissel van manlike kunstenaar van die jaar tot album van die jaar. Om sy tien jaar in die bedryf te vier het hy in November verlede jaar Bobby van Jaarsveld: die eerste 10 jaar met 22 van sy gewildste snitte uitgereik.

Het hy ooit gedink hy sou soveel sukses behaal?

“Eintlik het ek nog nooit gevoel ‘hier’s dit nou. Jy is nou suksesvol’ nie. Ek dink in elk geval ’n mens moet oppas om te dink jy het nou arrive, want dan verloor jy jou passie en kreatiwiteit. Dan kan jy maar ophou. Dis alles net genade, die afgelope tien jaar se sukses ook.”

Hy het ook al die afgelope dekade by verskeie geleenthede sy lyf akteur gehou in flieks soos Liefling en As jy sing, en was ook te sien in musiekblyspele. Vanjaar gaan hy meer aandag aan hierdie deel van sy loopbaan gee.

“Ek is besig om saam met Johan Vorster ’n TV-reeks te skryf wat uit die fliek As jy sing voortvloei.”

Daar is ook sprake van ’n rolprent, ’n teaterproduksie en dalk selfs ’n werklikheidsreeks.

Vir hom is die lekkerste van sy beroep dat hy sy passie kan leef.

“Ek kan my hart deel op die verhoog, en hopelik kan ek ’n verskil maak aan iemand se lewe. Ek weet almal van ons kan ’n verskil maak as ons wil.”

Hul geloof is vir hom en Annatjie die anker in hul lewe.

“Dis ons alles. My hele bestaan, alles wat ons is, alles wat ons het, kom van die Here af. Ons kan alles verloor, maar Hom kan ons nooit verloor nie. Ons probeer binne ons roeping leef, en as ek nie die lewe leef waarvoor Hy my geroep het nie, bid ek dat Hy my sal uithaal en sal wys wat my roeping is.”

Hy glo nie aan dinge te ver vooruitbeplan nie.

“Ek glo ons storie is al klaar geskryf. Ons moet net daarin loop en op die Outeur se stem reageer. Ek glo Hy het ’n plan vir my.”

As hy nie iewers optree nie, bou hy graag.

“Ek is mal oor bou – vra maar vir Annatjie! Sy is al moeg daar- voor. Ons het onlangs na ’n ander huis getrek en nou verander ons ’n paar dinge. Dis my ontspanning – ek wil net bou! Ek sal ook nie omgee om eendag ’n konstruksiebesigheidjie te hê nie.”

Nog ’n gunstelingmanier van ontspan, is diepseeduik. Hy pak sy lewe en loopbaan met oorgawe aan.

“Ek baklei my hele lewe lank nog daarteen om ’n fake te wees. What you see, is what you get, en ek hoop mense ervaar my so wanneer ek voor hulle op ’n verhoog staan.”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Is dit hoekom jy maagpyn het?

Waar pyn jou maag? Die presiese plek waar jy die pyn ervaar, kan aandui wat…

1 day Gelede

Hoe om jou dogter groot te maak om sterk en vol selfvertroue te wees

In ons moderne wêreld, waar die uiterlike voorkoms blyk om al hoe belangriker te word,…

1 day Gelede

Sauvignon Blanc Dag op prettige manier gevier

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts Dis hoe die Suid-Afrikaanse wynbedryf die afgelope naweek Internasionale…

1 day Gelede

Willem Botha se nuwe liedjie kry die partytjie aan die gang

Veelsydigheid is Willem se middelnaam, maar musiek bly sy passie. Hierdie enkelsnit is sy eerstevrystelling…

1 day Gelede

Lemoen-ontbytkoekies

Die koekies is heerlik klam en maklik om te maak. Jy kan hulle sonder die…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Nicole en Hennie Bosman oor ‘Wanderlus’ se jongste seisoen

Hennie en Nicole Bosman van Franschhoek, ’n paartjie wie se daaglikse lewe uit die see,…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.