kategorieë: LeesOntspanning

Die man met die sagte oë

Die vrou wat weerkaats word, is nie meer jonk nie, maar vreemdes skat nooit haar ouderdom reg nie. Dis net as sy vir Stefan, wat duidelik al oor die dertig is, as haar seun voorstel dat hulle met bespiegelende oë begin wonder hoe jonk sy was toe hy gebore is. Haar hare is nog ’n ryk heuningbruin kleur, haar vel redelik glad, en ondanks die swaarkry van die afgelope jare, het sy min plooie en haar figuur is nog so skraal soos toe sy so oud soos Stefan was.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Maar Marina sien nie die uiterlike raak nie, sy soek daardie iets in haar waarop sy haar lewe lank staatgemaak het. Iets wat nou skynbaar ondergronds gegaan het – soos ’n mol wat in sy winterslaap weggeraak het. Wat gaan gebeur as daardie mol wakker word en ’n tonnel moet boor om uit te kom? Gaan dit te laat wees?
“Hou op soek na tekens en voorbodes! Geniet hierdie ding, Marina, dit is so presies reg vir jou. Jy is geregtig op geluk, moenie dit bederf deur allerhande voorspooksels te gaan uitkrap nie.” Andri se woorde maak sin.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Marina se intuïsie is net daar om haar te waarsku, om geen ander rede nie. Dit is stil as dinge goed gaan. Die stemmetjie praat net as iets nie reg is nie, as sy kan voel dat ’n negatiewe ding gaan gebeur. Sy is selde verkeerd.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Jy en jou pessimisme,” het Hans haar dikwels verwyt as sy hom gewaarsku het oor ’n ding. “’n Mens moet kanse waag – risiko’s loop – dis waaroor die lewe gaan. Net omdat jou ellendige intuïsie sê iemand is ’n skelm, beteken dit nie dis noodwendig waar nie.”

Maar dit was so. En later het Hans haar al hoe meer kwalik geneem vir haar spoilsporthouding – alewig op soek na dinge wat kan skeefloop. Tot sy die dag gewéét het hy verneuk haar. Haar vriendinne het uitgevra oor die tekens – die skielike mooi aantrek, geheime oproepe of flou verskonings van laat werk. Nee, daar was nie so iets nie, nie aan die begin nie, maar sy het gewéét.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

En nou, op die vooraand, eintlik die voor uur van dié groot ding wat oor haar pad gekom het, is die stemmetjie doodstil. Weg. Daar is net rustigheid en vrede in haar.

“En dit, Marina Labuschagne, kan jy nie hanteer nie, nè?” praat sy met haarself. “Geluk is iets waarop jy nie gereken het nie – iets wat jy sal moet leer om te aanvaar.”

Onwillekeurig dink sy aan die eerste keer toe haar beroemde instinktiewe aanvoeling vir moeilikheid haar in die steek gelaat het.

Dit was die dag van Tobie se troue op die plaas in die Vrystaat.

Sy en haar sus, Andri, was destyds so opgewonde toe hulle saam verwag het en Tobie en Stefan weke uitmekaar gebore is. Ondanks die afstand tussen Johannesburg en die plaas naby Bethlehem, het die twee soos broers grootgeword en Marina was dankbaar vir Andri se kroos meisiekinders wat gevolg het, want Stefan het hul enigste kind gebly. Toe Tobie op drie en dertig aankondig dat hy gaan trou, was dit vanselfsprekend dat Stefan sy strooijonker sal wees en dat sy vir Andri met al die voorbereidings sal help. Die aanstaande bruid, Colette, kom van Springs af, het net ’n ma, en was bly toe Andri daarop aandring om die troue op die plaas te hou.

Marina was dankbaar vir die werk wat Andri op haar gelaai het. Minder as twee jaar ná die egskeiding was sy nog baie broos en moes sy steeds haar trane bly keer.

Maar toe sy in die kerk langs Andri en swaer John sit, kon sy dit regkry om haar eie sinisme oor die liefde te vergeet en op die mooi jong mense, die blomme en die musiek te konsentreer.

Sy het niks vermoed nie. Nie eers ná die foto’s geneem is en hulle aangestap het na die skuur wat John uitgewit en Andri versier het soos geen stadsbloemis haar dit sou kon nadoen nie. Sy het geen sweempie onheil aangevoel nie; gelag oor Andri se jongste dogter se vertelling van die dieet waarop haar ma hulle almal voor die troue gehad het, toe sy saam met Stefan die skuur instap waar die trougaste reeds aangesit het.

“Ma … ” iets in Stefan se stem het al die antennas in haar binneste laat regop spring. Sy het verskrik vasgesteek, in die rigting gekyk waarheen hy beduie het, en gevoel hoe die bloed uit haar gesig loop.

“Sit hier, Ma. Hy het ons nog nie gesien nie. Wag, ek bring water.”

Wat maak hy hier tussen háár mense? Dis háár suster se seun wat trou. Hulle sou nooit vir Hans genooi het nie. Nou wie het dan?

En meteens skop haar intuïsie in en daarmee saam styg die naarheid in haar op. Hans is deurmekaar met ’n bloedjong meisie. Iemand so oud soos Tobie se nuwe vrou. ’n Vriendin? Maar hy moes tog geweet het waarheen hy kom. Hy ken die plaas al jare lank. Hy het geweet hy gaan haar sien. Geweet hoe hy haar sal ontstel; haar sal verneder. Wat gaan sy doen? Haar oë flits heen en weer – sy vat die water by Stefan, maar voor sy kan sluk, sien sy hoe Hans opstaan en na haar toe kom.

Nee! Sy wil hom nie sien nie! Suur brand in haar keel. Sy wil naar word. Sy staan so vinnig op dat haar stoel omval. Sy ignoreer die vraende gesigte wat na haar kant toe draai. Loop net. Eers op die stoep van die plaashuis gaan sy staan, haar asem so gejaagd soos daardie einste waghond in haar binneste wat nou moeg heen en weer teen die heining gehardloop is.

Sy kan nie teruggaan nie. Die onmin tussen hulle brand nog in haar binneste. Sy is bang sy gaan iets vreesliks doen. Die mooi dag bederf. Sy moet wegkom. Nou.

Toe sy uitkom met haar motorsleutels in haar hand, sien sy Hans en Stefan en John in die skuur se deur staan. Die waghond spring regop en wys sy tande. Woede maak rooi vlamme agter haar oë. ’n Oomblik oorweeg sy dit om soontoe te stap, maar sy draai weg in die rigting van die motorhuis. Nee, waarsku haar instinkte haar, nee.

Bewend sukkel sy om die sleutel gedraai te kry, knars die motor in trurat en met oë wat dof is van ontsteltenis ry sy agteruit, draai die stuurwiel sodat sy vorentoe kan gaan, verby die plaat motors, tussen die laning bloekombome deur tot by die oop plaashek. Toe sy deur is, maak sy haar oë vir ’n oomblik toe.

Toe sy hulle oopmaak, is die blou bakkie op haar. Sy ruk haar stuurwiel na links, die wiele draai vir ’n sekonde of twee onbeheers in die lug voor die motor teen die wal afgly en met ’n slag teen ’n boom tot stilstand kom. Marina se kop ruk vorentoe en stamp so hard teen die stuurwiel dat sy sterre sien.

Iemand ruk haar deur oop, pluk aan die veiligheidsgordel en trek haar by die deur uit.

“Vroumens, is jy orraait? Kan jy praat? Waar het jy seergekry?”

Toe sy op die grond sit met haar rug teen ’n boom, tref die skokgolwe haar en sy begin onbedaarlik bewe. Die man wat voor haar kniel, staan op en gaan haal ’n baadjie in sy kar en sit dit om haar. Die besorgdheid van sy hande wat die moue agter haar invou, sy sagte geprewel dat sy moet ontspan, haar nie moet bekommer nie, als sal regkom, is vir Marina een te veel en die wal breek. Hy gaan sit langs haar, styf teen haar met sy hande lossies tussen sy bene. Hy praat nie. Sy huil totdat haar keel rou is en sy sakdoek deurweek.

“Ek … ek is jammer.” Haar stem klink asof dit aan iemand anders behoort.

Hy sê niks nie, maar sy oë is sag en sy mondhoeke krul effens boontoe. Sy vee selfbewus oor haar gesig en hare en rem aan die rok wat oor haar knieë opgeskuif het. Stadig raak sy bewus van haar omstandighede. In die weste begin die son sak en ’n vlugtige blik op haar horlosie wys dat dit tien voor ses is. Die troue was vieruur, die fotosessie het sekerlik tot ná vyf geduur, dus het daar beswaarlik ’n halfuur verloop sedert sy uit die skuur gestorm het.

Dit voel veel langer.

Sy wil wegkom. Hierdie man, wat sy van geen kant af ken nie, het haar weerloos en hulpeloos gesien. Wat moet hy van haar dink? Sy vermy sy gesig en sukkel om op te staan. Hy kom gemaklik orent en trek haar op. Die baadjie val van haar skouers af en hy buk om dit op te tel. Sy loer vlugtig na hom. Nie jonk nie, seker vyftig plus, sy hare gryserig, sy lyf stewig maar nie vet nie, sy arms gespierd en bruingebrand. ’n Boer waarskynlik. Iemand wat laat is vir die troue. En nou nog later gaan wees.

“Ek is jammer,” stamel sy weer, “jy moet aangaan. Ek sal regkom.”

Sy lag is warm. “Nou hoe dink jy gaan jy hierdie kar van jou weer teen die wal opkry?”

Sy sien nou eers hoe haar rooi motortjie lyk en byt op haar lip om nie weer te huil nie.

“So – die trane was nie oor die kar nie?” vra hy met ’n glimlag in sy stem. “Was dit my lelike gesig wat jou so ontstel het?”

Sy skud haar kop.

“Kan jy my help om dit op die pad te kry?”

Hy klim in, en met bande wat pynlik skreeu, trek hy die motor tot langs sy bakkie. Die kar het ’n lelike duik voor, maar nadat hy onder die enjinkap ingekyk het, verklaar hy dat hy geen ooglopende skade sien nie. Sy glip langs hom verby, klim vinnig in en met ’n gesmoorde dankie trek sy weg. In die truspieël sien sy hoe hy haar oopmond agterna kyk.

Sy is donkeraand terug by haar huis in Craighall Park. Dit voel of sy ’n marathon gehardloop het en haar kop klop met ’n intensiteit wat gewone hoofpynpille glad nie verlig nie. Toe sy in die nag naar word en duiselig raak, bel sy haar huisdokter wat destyds vir Stefan in die lewe gehelp het. Hy kom haal haar en sy lê twee dae lank met harsingskudding in die hospitaal. Die pyn in haar kop, die naarheid en duiseligheid word beter, maar vreemde en ontstellende drogbeelde teister haar drome. Tussendeur draai ’n gesig met sagte oë en mondhoeke wat opkrul en ’n lag wat warm om haar vou.

“Hoe kon jy tot in Johannesburg aangehou bestuur het?” wil Andri weet.

Sy weet nie. Sy onthou nie.

Andri vertel dat John en Stefan vir Hans sommer dadelik gevra het om te loop. Hy het genoeg verstand gehad om vir sy jong poppie te beduie dat hy nie wel voel nie. Sy het agtergebly, en om alles te kroon, by Stefan aangelê sonder om te weet wie hy is.

“Tobie en Colette het niks agtergekom nie, net gewonder wat jou skielik so olik gemaak het. Dit was vir hulle ’n mooi aand.”

“Ek is jammer as ek dit vir jou bederf het, Sus. Alles was so pragtig, en ek wou graag daar gewees het.”

“Aanvanklik was ek ontsteld, maar toe ek hoor van Hans, het ek verstaan. Ek het ook gedink die ongeluk kon nie te erg gewees het nie, nié as jy verder gery het nie. Toe ou dokter Bruwer bel, het ek my doodgeskrik.”

“Wie is die man wat my gehelp het?” Sy probeer haar stem ongeërg hou en hoop dat Andri die blos op haar wange sal toeskryf aan die warm hospitaalkamer.

“Ek ken hom nie. ’n Neef van Colette se ma. Hy was laat omdat hy verdwaal het – dankie tog daarvoor. Toe hy aankom was die toesprake aan die gang en hy het eers daarna vir John kom sê. Ek het hom gaan soek om verder uit te vra, maar hy het blykbaar nie lank gebly nie.”

Dan is dit soos dit is. Die man sal ’n vreemdeling bly.

Vir ’n kort rukkie het hy haar getroetel en veilig laat voel, en waarskynlik bedwelm deur die hou teen haar kop, het sy haar verbeel hy gee om. Nie waar nie. Hy het nie eens die moeite gedoen om vas te stel wie sy is nie. Dalk is hy getroud? Buitendien kan ’n mens geen man vertrou nie. Sy luister na die stem in haar binneste wat haar moet verseker dat hy ook net ’n skurk is – maar daar is net stilte uit daardie sentrum vanwaar haar intuïsie gewoonlik sy boodskappe stuur.

Sy maak gebruik van John en Andri se aanbod om ’n paar weke in hul strandhuis op Glentana te gaan rus, en vertrek sommer ’n paar dae ná sy uit die hospitaal gekom het met Stefan se motor. Haar eie is nog by die paneelklopper.

“Ek kan ’n maatskappymotor gebruik, Ma. Ry net versigtig, bel dikwels en moenie weer teen walle afjaag nie.” Sy kon geantwoord het dat sy dit net sal doen as sy weer in die arms van daardie man kan beland, maar het liefs niks gesê nie.

Die see en sy hipnotiese golwe boei haar ure lank. Sy sit op die houtdek van die huis in ’n stoel waar die blou kussings later die vorm van haar lyf aanneem en sy luister. Sy luister na die stemme van haar verlede, van haar kindertyd toe sy, die veeleisende middelkind, so dikwels teleurgesteld was as haar ouers ’n stokkie voor haar planne gesteek het. Later het sy geleer om ag te slaan op haar innerlike wete as dié haar waarsku dat iets nie gaan uitwerk nie.

Sy besef nou dat die negatiewe stemme wat sy aan aanvoeling of intuïsie toegeskryf het, haar entoesiasme gedemp en haar oorversigtig gemaak het. Sy onthou die baie kere wat sy Hans se geesdrif gesmoor het en begryp vir die eerste maal hoe hy van haar vervreem geraak het. In die ingesteldheid op haar innerlike oor hoor Marina die fyn, maar dringende stem van haar gewete wat haar maan om te vergewe, om haar eie rol in die mislukking van hul huwelik te erken.

En toe sy oplaas die genade van vergifnis ervaar, staan Marina op, en in die lig van die maan slaan sy haar arms om haar lyf en dans op die houtdek op die wysie van die musiek wat deur haar liggaam spoel. En sy wens dit was die arms van die man met die sagte oë om haar lyf.

Twee dae ná sy terug is, is daar ’n klop aan haar deur. Sy kook ’n dankie-sê ete vir Stefan vir die leen van sy motor en is besig om uie te kap. Sy maak die deur oop, haar oë rooi en tranerig, die mes nog in haar hand.
“Ag nee, huil jy al weer? Of steeds?”

Dis hy!

Later, baie later, ná baie ure se gesels, baie gelag en selfs weer ’n paar trane, het sy die hele verhaal gehoor.

“Ek het Colette se ma beloof ek gaan troue toe, maar ek was amper nie daar nie, want die vrou aan wie ek verloof wou raak, het geweier om ’n ‘simpel plaastroue’ by te woon. Ons het gestry en ek is ontsteld daar weg. Toe ry jy my amper disnis, bars in trane uit en toe jy my sakdoek behoorlik nat gehuil het, staan jy op, kry my om jou kar uit te trek en woeps, weg is jy.”

“Ek was nie myself nie,” verdedig Marina, “my harsings was losgeskud.”

“Jy het my behoorlik losgeskud.” Skielik is sy stem ernstig. “Ek kon jou nie uit my gedagtes kry nie. Ek is terug na Charlene toe om dinge uit te praat. Ons het besef ons is nie vir mekaar bedoel nie. Dit het nie binne ’n dag gebeur nie, maar eers toe dit afgehandel is, het ek gevoel ek kan jou kom soek. Andri en John stuur groete en sy het ’n boodskap gestuur – iets van ‘luister na jou goeie intuïsie’?”

Marina het ’n oomblik stilgestaan en geluister, maar daar was niks nie. Net ’n heerlike opwinding wat soos die note van ’n klaviersonate deur haar kop gedans het.

En nou, hier voor die spieël, enkele minute voor sy met die man met die sagte oë en die warm lag gaan trou, is die stemmetjie doodstil. Die stemmetjie wat haar oorversigtig gemaak het, altyd die negatiewe in alles laat raaksien het, is weg. Heeltemal weg.

In haar kop is daar nou ’n ander wete, ’n sekerheid dat intuïsie wat op die goeie dui, nie ’n stem het nie, maar ’n innerlike lied met ’n soet wysie is.

Sy staan stadig op en met haar arms om haar lyf geslaan, haar oë toe en ’n glimlag op haar gesig, dans Marina op die maat van die musiek in haar siel by die deur uit tot by die man met die sagte oë.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose
Tags: verhalelees

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.