kategorieë: InspirasieJou lewe

Die pad na selfhernuwing

Dit was doodeenvoudig. Die lewe het gebeur.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Vuiste vol daarvan, en in ’n baie kort tyd. Ek kon myself nie meer verweer en die houe wegkeer nie. Jy is die een oomblik nog besig om weer die veters van jou bokshandskoene vas te ryg sodat jy jou teen die lewe kan beskerm, dan kom die volgende houe, dié keer van ver buite die periferie van jou sielsoog.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“En daar wieg jy dan, al kopskuddend en jy probeer so hard; jy probeer só verskriklik hard, om net ’n bietjie van jou fokus terug te kry … ”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Só het ek in Desember 2013 geskryf oor hoe die lewe my pap geslaan het en ek, gesig eerste, op die grond beland het. En daarna in Denmar.

Maar hoe kom ’n mens weer terug? Hoe reinvent of herskep jy jouself? Hoe hervestig jy jouself in jou sélf, maar ook in die oë van jou vriende, familie en ander mense wat jy in jou “mal tyd” te na gekom het?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoe hervestig jy jouself in jou sélf, maar ook in die oë van jou vriende, familie en ander mense wat jy in jou “mal tyd” te na gekom het?

Ek bedoel daar het vreeslike goed gebeur terwyl ek so met my gesig op die grond gelê het. Op my man se boekbekendstelling was ek getrek op pille en wyn en dit terwyl ek die onderhoudvoerder was – onnodig om te sê dit het glad nie glad verloop nie. Ek het op ’n verhoog aan die slaap geraak, of in ’n sone van onbewussyn ingeglip by ’n gedigte-gedoente op die Woordfees in 2011; ek het my vriende se diep geheime sommer aan almal uitgeblaker … Die lys is gruwelik aaklig en gruwelik lank. Dit was asof daar ’n rukkie lank ’n ander mens in my kop kom bly het, en dit was regtig nie ’n aangename mens nie. Kortom: ek was verlore.

Maar ek was, of is, darem nie alleen nie. Dit het al met talle mense, bekendes en gewones, gebeur. Trouens, een van my vriende … of wag, netnou skinder ek weer.

Een van die beste voorbeelde van iemand wat boaan die leer was, lelik afgetuimel het tot heel onder en uiteindelik weer suksesvol opgestaan het, is die akteur Robert Downey Jr., bekend vir sy rolle as Tony Stark in Iron Man en die titelkarakter in Guy Ritchie se supersuksesvolle Sherlock Holmes-reeks.

Downey se verhaal is byna ongelooflik – as jong akteur het hy hoë verwagtinge geskep en was selfs geoormerk om “een van die grootstes van sy generasie” te word. Maar selfs tóé al het hy meer as een keer aan die verkeerde kant van die wet en die norme van ordentlikheid beland.

Hy het in die laat jare negentig geheel en al beheer oor sy lewe verloor, hom aan drank en dwelms oorgegee en is selfs in 1999 drie jaar tronkstraf opgelê omdat hy sy paroolooreenkoms op ’n vorige aanklag verbreek het.

In ’n stadium is hy voorgekeer terwyl hy sonder klere, met ’n gelaaide geweer en hoog en dronk op die hoofweg voortgesnel het. By ’n ander geleentheid het hulle hom gekry waar hy in ’n fetusposisie (weer eens sonder klere en vol verdowingsmiddels) tussen die asblikke agter sy hotel lê.

Kyk, wanneer ’n mens van hoog af val, dan val jy vér

“Ek het werklik alles verloor. My vrou, my kind, my selfrespek,” het hy jare later erken. “Toe ek uiteindelik my kop skud en alles weer in fokus was, was dit asof ek uit ’n twintig jaar lange koma wakker geword het.”

Met die verfilming van Gothika het hy in ’n verhouding met die vervaardiger, Susan Levin, beland maar sy wou later niks met hom te doen hê nie – juis weens sy ander verhoudings: dié met dwelms en drank. Dit het hom geskud.

Kort daarna het hy op sy tipiese dramatiese wyse by ’n Burger King langs die pad gestop en al sy dwelms in die Stille Oseaan gegooi. Toe het hy ’n 12-punt plan gevolg om hom te help om van sy afhanklikheidsgewoontes ontslae te raak, begin mediteer en sedertdien nie weer aan enige sterk stimulante geraak nie. Vandag is hy met die einste Susan getroud, ’n toegewyde gesinsman en pa van ’n seun, Exton en ’n dogtertjie, Avri.

Hy is ook onlangs aangewys as die grootste lokettrekpleister in die rolprentbedryf en die ongekroonde koning van die silwerdoek.

Waar het die ommekeer begin?

Wat is daardie belangrikste, eerste stap op die reis na herstel wanneer jy jouself heeltemal verloor het?

“Dit begin daar waar jy aan jouself erken dat jy nou op die grond is. In die donkerste deel van ’n gat wat so diep is dat jy nie eens die blou lug daar bo kan sien nie.

“So, spoeg die grond uit jou mond uit, sit regop en kyk deeglik na jouself,” is die raad van James Altucher, entrepreneur en skrywer van die topverkoper How to Say No.

Om “deeglik na jouself te kyk”, beteken heel moontlik dat jou eie grootste foute jou in die gesig moet staar. Dit behels onder meer dat jy herhaalde “verkeerde gedrag” moet raaksien en erken, slegte gewoontes moet identifiseer en ’n prentjie in jou kop moet vorm van hoe jy vir jouself, maar ook vir ander voorkom. Dit is gewoonlik nie ’n mooi prentjie nie.

Dit kan “kleiner” dinge wees:
Drink jy te veel wyn? Slaap jy te lank (of te min)? Praat jy te hard en te veel?

Of groter goed:
Is jy onkeerbaar verslaaf aan stimulante – alkohol, pille, aandag, seks? Lieg jy heeltyd, selfs oor onnodige dinge. Skaam jou man/vrou, familie of vriende hulle vir jou onvoorspelbare of goor optrede in geselskap?

Hoe beïnvloed jou gedrag jou interaksie met ander mense? Hou jy van daardie mens wat haarself so sleg gedra? Moeilike vrae, en nog moeiliker die antwoorde.

Die volgende stap is die reis na herstel en herskepping

Kan jy dit op jou eie aanpak?

Die meeste kenners reken dis nie moontlik nie. ’n Mens het die hulp van vriende en familie nodig, hoewel die druk op hulle ook ondraaglik kan word – hulle is immers die mense wat waarskynlik die felste onder daardie optredes deurgeloop het. Soek eerder iemand wat professioneel en onbetrokke met jou kan werk en jou op daardie positiewe roete na selfherskepping kan bystaan. Kry iemand wat jou kan lei op ’n pad waar jy kan begryp wat jou in die eerste plek onder in die gat laat beland het en jou met selfkennis en insig kan toerus.

Maar jy sal aktief aan dié noodsaaklike proses moet deelneem.

Jy kan nie net sit en verwag dat iemand anders jou moet fix nie – heling en nuutskepping kom van binne af.

Jy kan nie net sit en verwag dat iemand anders jou moet fix nie – heling en nuutskepping kom van binne af

Altucher reken die beste manier om jou sover te kry om die pad na selfvernuwing aan te durf, is om te leer om “nee” te sê.

“Sê nee vir alles wat jy nie eintlik wil doen nie. Sê nee vir die goed wat jou seermaak, hetsy fisiek, emosioneel of geestelik. Sê nee vir goed wat jou slaap, tyd, geld en vriende kos. Ons moet leer om nee te sê sodat ons die tyd en ruimte kan skep om ja te sê vir die dinge wat ons eintlik wil hê en wat ons bemagtig … ”

Lees ook: Wees positief, leef langer

Dr. Talia Marcheggiani, een van Altucher se studente, het haar eie stappe by dié in sy seminale boek gevoeg: Herbedink jou verhoudings en vriendskappe: wie laat jou nie goed voel nie? Wie laat jou aan jouself twyfel? By wie ervaar jy verwerping wanneer jy net jouself in hul geselskap is? Retireer met grasie en distansieer jou van sulke verhoudings. Jy gaan ’n ruk lank alleen voel maar soms is alleenheid ’n goeie ding.”

Retireer met grasie en distansieer jou van sulke verhoudings. Jy gaan ’n ruk lank alleen voel maar soms is alleenheid ’n goeie ding

  • Raak ontslae van al die klotter in jou lewensruimte – al daardie rondstaangoed wat jou beknop en oorweldig laat voel.
  • Wees stil, al is dit net vyf tot tien minute per dag.
  • Raak weer opgewonde oor die goed wat jou as kind gefassineer het, selfs al is dit net ’n ou televisieprogram of ’n strokiesboek.
  • Begin met ’n “dankbaarheidsbottel/-boek”. Elke dag moet daar tog iets wees wat jou dankbaar maak, al is dit net omdat die son skyn. Of dit reën. Of omdat daar kaas in die yskas is.
  • Lees!
  • Slaap minstens agt uur per nag.
  • En ja, eet jou groente, veral die groenes … Onthou daardie ou Spartaanse gesegde: ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.
  • Oefen, al gaan stap jy net om die blok.
  • Sien om na jouself. Pamperlang jouself.
  • Doen iets kleins wat jou laat voel dat jy iets afgehandel het, soos skottelgoedwas.
  • Laat gaan daardie dinge wat nie vir jou bestem is nie, soos vorige verhoudings, verlore kanse, die perfekte tydskrifhuis …
  • En op laas, die belangrikste: vergewe jouself.

Elke mens (of die meeste mense) kom iewers in hul lewe op ’n plek waar hulle hul greep op die werklikheid verloor, of oorweldig word deur die lewe. Die graad van verlorenheid verskil miskien, maar die basis daarvan bly dieselfde.

Ons is glad nie alleen wanneer ons ons op daardie plek van volslae gesigloosheid bevind nie.

Ons is glad nie alleen wanneer ons ons op daardie plek van volslae gesigloosheid bevind nie

Dit help ook geweldig om vir jou doelstellings te skep. Vra jouself af: “Hoe wil ek wees, gesien word, optree … wanneer ek uit hierdie gat gekruip het?” Visualiseer dit. Dink na oor daardie gewoontes wat jy moet verander of heeltemal laat gaan om die mens te word wat jy eintlik wil wees. Doen dit.

Hoe “hervestig” jy jou weer tussen daardie mense wat jy teleurgestel het, hetsy familie, vriende of die publiek?

Stadig, helaas.

Begin van voor af, het ek geleer. Dis pynlik, dis alleen, dis bitter moeilik. Mense vergeet maklik dat jy jare lank ’n gesonde, gebalanseerde mens was sodra jy skielik die een sotlikheid na die ander begin aanvang.

Jy kan verduidelik tot jy blou in die gesig is wat die redes daarvoor was. Dis net ’n nuwe manier van doen wat hulle sal oortuig.

Niemand verander of herstel oornag nie. Daardie proses van selfherskepping kan selfs vyf jaar of langer duur, of in die geval van Robert Downey Jr., twintig jaar.

Maar jy kan seker wees: Dit ís moontlik om weer die beste mens te word wat jy kan wees.

Die 5-punt plan

Stap 1
Erken aan jouself dat jy diep in die moeilikheid is en wil verander.

Stap 2
Soek hulp en kry insig.

Stap 3
Werk saam – iemand anders gaan jou nie heelmaak nie, jy moet ook daaraan werk.

Stap 4
Skep vir jouself nuwe doelstellings – en visualiseer dit.

Stap 5
Moenie haastig wees nie. Niemand verander of herstel oornag nie. Laat soveel as vyf jaar toe om die hele proses te voltooi.

Lees ook: Kry stres jou onder?

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.