kategorieë: HandwerkLeefstyl

Hekel – véél meer as net handwerk

Hekel – véél meer as net handwerk deur Essie Bester. Hooffoto:iStock

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hekel – véél meer as net handwerk

Vroue (én mans) skroom nie om te getuig hoe hekel hulle deur donker tye gehelp het nie. Die ontwerper Sheila Zachariae vertel: “Ek het my man, Cory, verloor in ‘n twee jaar lange stryd teen kanker. In dié tyd het ek begin hekel. Hekel het my gedagtes weggelei en laat fokus op iets anders as siekte en vrees.”

Hester Buchner Bester, eienaar van MoYa Yarn in Somerset-Wes, sê dit het haar gehelp om haar ma se dood te verwerk. “Met elke steek het ek aan Mammie gedink, baie gehuil en uiteindelik vrede gekry.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Riaan Grobler, bekende Suid-Afrikaanse sanger en radio-omroeper, meen: “Hekel is ’n ontvlugting waarvoor jy geduld moet hê, maar glo my, as jy eers begin kan jy nie ophou nie.”

“En dis dié positiewe verslawing wat mense uit hul eensaamheid, depressie, seer en verveeldheid ruk – daarvan kan ek getuig,” vertel Karen Adendorff, Suid-Afrika se eie hekelkoningin.

Professor John Benyon, verbonde aan die Universiteit van Leichester tot en met sy dood in 2016, het geglo: “Handwerk kan baie groot voordele vir ons gemeenskappe en die samelewing inhou in terme van verbeterde gesondheid, groter sosiale insluiting, minder eensaamheid en sterker kulturele bande.”

Dis ook die siening van die Australiese navorser, dr. Pippa Burns. Dr. Yonas Geda, medeprofessor in neurologie en psigiatrie by die Mayo Clinic in Arizona, reken boonop dis goed vir jou brein.

“Hekel verhoog patroonherkenning en hand-oog-koördinasie en verbeter fyn motoriese vaardighede en fokus.”

Geda se studie dui daarop dat hekel neurobeskermend is. Seniors wat aktiwiteite soos hekel geniet, is tot 50% minder geneig om ligte kognitiewe gestremdheid (‘n moontlike voorloper tot Alzheimersiekte en ander vorme van demensie) te ervaar.

Dit word ook gekoppel aan uitgestelde geheueverlies by ouer persone. In ’n 2018-aanlyn opname deur Burns, is bevind dat kalmte (90%), geluk (82%), verbeterde geheue (74%) en verbeterde konsentrasie (71%) as die grootste voordele van hekel beskou word.

Dit alles dui daarop dat hekel ’n wonderlike stresontlaaier is. Heel gepas deel die Craft Yarn Council (CYC), ’n verteenwoordiger van die toonaangewende hekel- en breidraad ondernemings, dan ook in April (Stresbewustheidsmaand) aanhalings van gunsteling-bloggers en -ontwerpers op hul Instagram-, Facebook-, YouTube-, Pinterest- en Twitter-blaaie oor hoekom brei en hekel so voordelig in hul lewe is.

Lees ook: 10 maklike hekel- en breipatrone wat jy nou moet maak

Die top-voordele sluit in

  • Dit verhoog die vrystelling van serotonien – ‘n natuurlike antidepressant en pynverligter. Volgens Geda maak aktiwiteite soos hekel dit vir die brein moeiliker om pyn te registreer.
  • Dit bied waardevolle positiewe afleiding. Die repetisie en ritme van die hekel-aksie moedig bewustheid aan – daardie vermoë om ten volle in die oomblik te wees, bewus van wie ons is en wat ons doen, en nie te oorreageer op dinge wat om ons aangaan of daardeur oorweldig te voel nie. Psigiaters beveel dit aan vir pasiënte wat aan PTSD, angs en ernstige depressie ly en dit kan ook slapeloosheid verlig.
  • Hekel oefen en verbeter jou geheue en skerp jou wiskundevaardighede op. Rhymit, ‘n New Yorkse hekelaar, skryf: “Ek het as kind leer hekel. Ek glo dit het my vermoë om te fokus en te konsentreer, asook my probleemoplossingsvaardighede help verbeter.”
  • Dit verskaf hoop aan beroerte-oorlewendes aangesien dit dien as ’n vorm van rehabilitasie-terapie wat motoriese funksie en koördinasie kan verbeter.
  • Dit kan jou sosiale vaardighede verbeter aangesien hekelwerk dikwels in groepe gedoen word, hetsy formeel of informeel.

En dis groepe soos dié waaraan Benyon baie waarde geheg het. “Hekelgroepe laat ruimte vir selfuitdrukking, liefdadigheid en ’n gevoel van produktiwiteit en kan terapeuties in groepsverband gebruik word vir dwelmmisbruik, swanger vroue wat bedrus nodig het en vir mense wat aan sosiale angs lei.” Burns, in wie se studie net 26% van die deelnemers aangedui hulle behoort aan ’n hekelgroep, moedig ook die vorming van hekelgroepe aan.

Lees ook: Hekel self inkopiesakke

Handwerk verbeter lewens

Hekelgroepe dra inderdaad by tot die genesing van individue en gemeenskappe.

Een so ’n groep, Yarn Alive in Shichigahama Japan, se lede vind vertroosting deur saam te brei en hekel nadat almal van hulle hul huise in die aardbewing en tsoenami in 2011 verloor het.

In die Walter Reed Nasionale Militêre Mediese Sentrum hekel en brei Amerikaanse veterane saam vir beter geestesgesondheid.

Plaaslik het die liefdadigheidsinisiatief, 67 Komberse vir Nelson Mandela-dag, van ’n nederige begin ses jaar terug gegroei tot ’n internasionale beweging.  Klik hier om meer uit te vind

Lees ook: Basiese tegnieke vir hekel

Raak betrokke by een van die plaaslike hekel- en breigroepe se liefdadigheidsprojekte en ervaar die helende krag daarvan.

  • Hekel/brei ‘n vierkant.

Vierkante of oumablokkies word aanmekaar gewerk om komberse te vorm. Gehekelde trooskomberse soos dié word geskenk aan kwetsbare kinders en hartgebroke mense wat ’n geliefde aan die dood moes afstaan.

Lees ook: Hekelboekies vir jou huis

  • Serpprojek

‘n Paar jaar gelede het die plaaslike filantroop, Carolyn Steyn, voorgestel dat handwerkers in Suid-Afrika soveel serpe moontlik brei of hekel. Op 13 Julie 2017 is dit aan bome, lamppale en heinings gebind, met die doel dat elkeen wat ekstra warmte nodig het een mag neem en op dié wyse liefde mag ervaar. Sedertdien laat duisende Suid-Afrikaners elke winter serpe op openbare plekke vir diegene in nood.

  • Mussies vir vroeggebore babas

Dis ’n maklike projek en liefdadigheidsorganisasies vir babas sal maar te dankbaar wees. Klik hier om meer uit te vind hoe jy ook betrokke kan raak

Die pa van ‘n vroeggebore baba vertel hoe hy tydens die vyf weke wat sy dogtertjie in die neonatale intensiewe sorgeenheid was, geleer het om te hekel.

“In ’n tyd toe ek hulpeloos gevoel het, het die hekel van mussies vir vroeggebore babas my weer doel en rigting gegee.”

Hy het aangehou met die stokperdjie en vandag help dit hom om spanning by die werk te hanteer, gee dit hom ‘n gevoel van orde in besige dae en gee hekel sy brein tyd om probleme op te los.

“Dis niks snaaks nie. Daar is baie mans wat by my kom wol koop,” sê Elaine van Wyk, eienaar van I Love Yarn-wolwinkel in Brooklyn, Pretoria.

’n Studie deur CYC toon daar is in die Verenigde State alleen oor die 2 miljoen mans wat hekel en brei. Die leefstyl-ghoeroe Drew Emborsky, ook bekend as The Crochet Dude, het onlangs die heel eerste boek gewy aan hekelprojekte net vir ouens, die lig laat sien.

Ten spyte van dié oplewing in hekel, bly die oorsprong daarvan vaag. Sover bekend is die woord hekel asook instruksies vir die tegniek in 1823 vir die eerste keer in ‘n Nederlandse tydskrif Penélopé gedruk. Terwyl sommiges beweer dat dit in Arabië ontstaan het en ander weer glo dis afkomstig van Suid-Amerika, dui navorsing daarop dat dit waarskynlik uit Chinese naaldwerk, ‘n baie ou vorm van borduurwerk, ontwikkel het.

Lees ook: Hekel ’n kombers

Nuutste tegnologie

Dit beteken egter geensins dis oudmodies nie. Hedendaagse hekelkunstenaars kan van die jongste tegnologie, insluitend programme op hul slimfone en tablette gebruik maak om hul hekelervarings te verbeter.

Met hekeltoepassings soos Wooltasia (‘n Android-toepassing) kan foto’s omgeskakel word na hekelgrafieke.

Selfs hekel-emoji’s kan nou afgelaai word met die nuwe CraftMoji-toepassing wat in die iPhone-toepassingswinkel beskikbaar is.

Dat dit lankal nie meer net ’n stokperdjie vir ou tannies is nie, is duidelik.

Gehekelde toiletrolbedekkings het plek gemaak vir piepklein amigurumi-speelgoed – ‘n gewilde Japanse hekelkuns wat die oulikste karaktertjies tot lewe bring.

Hekelentoesiaste (baie van hulle in hulle twintigs en dertigs) kom deesdae byeen tydens sogenaamde hekelwegbreeknaweke om die kunsvorm in al sy glorie te vier. Die oplewing is nie net plaaslik nie maar internasionaal. Oorsee is daar selfs kunsinstallasies van gehekelde en gebreide items deur erkende kunstenaars soos:

Agata Olek, ’n Pools-gebore onwerper wat deesdae in New York gebaseer is. Sy hekel alles wat in haar ruimte inbeweeg. Die materiaal vir ontwerpe sluit enigiets in – van materiaal tot tou, videoband en ballonne tot hare, lint, papier, klimtou en draad.

Penny Chorafa van Wearit Crochet is ‘n Griekse hekelkunstenaar en juwelier. Met ‘n agtergrond in argitektuur en ‘n belangstelling in unieke vesels soos papiergaring, skep sy oorspronklike en drabare hekelkunswerke wat op Etsy te koop is.

Meeste hekelkunstenaars voel egter dat die waarde van hekel nie in rand en sent gemeet kan word nie. In haar blog, Dirt Poor, skryf Cecilia Barnard: “My ouma het haar hele lewe lank pragtige, tasbare items geskep. Dit was my inspirasie om te leer hekel. Nou kan ek ook vertroostende geskenke skep, soos my ouma en oumagrootjie voor haar. Hekel is my verbintenis met my familie.”

Lees ook: Basiese hekellesse

Is jy ook geïnspireer?

“Vat ’n boek, kyk op YouTube, en jou kop is deur,” sê Adendorff wat beginners aanraai om ’n 3,5 mm pen en Elle Pure Cotton dubbelbreidraad aan te skaf – dit split nie en jy kan jou steke makliker sien.

“Moenie met draad leer hekel wat oneweredig, bont of te fyn is nie. Dit gaan jou frustreer. Bemeester elke steek behoorlik en begin met maklike mooi projekte. Kies ’n manier wat vir jou werk, raak gemaklik met die vashou van die pen en die draad en op die ou einde gaan jy sien dis eintlik eenvoudig.

Lees ook: GRATIS hekelpatrone uit ons argiewe

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.