Anel Potgieter is bekend vir haar bekroonde blog Life’s a Zoo Biscuit en ons lees graag haar kosrubriek in Rapport. Ons is veral gek na haar onopgesmukte manier van kos maak.
“Ons het in die Vrystaat met afval grootgeword en tot vandag toe is my 83-jarige ma se kerrie-pens-en-pootjies die lekkerste. Wanneer ek dit die dag wil maak, bel ek haar en vra die resep. Dié gee sy altyd sommer so uit haar kop vir my.”
Ma Babs se kerrie-afval
Genoeg vir 4
• 1,1 kg skaapafval (pens en pootjies), pens in stukke gesny
• 1 lourierblaar
• 1 suurlemoenblaar
• 5 swartpeperkorrels
• 7,5 ml (1½ t) sout
• 2,5 ml (½ t) koljandersaad, fyn gemaal
• 500 ml (2 k) water
• 15 ml (3 t) kerriepoeier (medium/sterk)
• 22,5 ml (1½ e) witwynasyn
• 3 groot aartappels, geskil en in kwarte gesny
1 Sit die afval, lourier- en suurlemoenblaar en peperkorrels in ’n drukkoker.
2 Meng al die ander bestanddele, behalwe die aartappels, en gooi oor die afval. Stoom vir 45 min.
3 Voeg die aartappels by en stoom vir nog 15 min.
4 Proe en gooi nog sout by indien nodig.
5 Sit voor met rys, pap of ’n stukkie brood.