Deur Elna Rossouw
Melinda Bam en haar ma, Wanda, en sussie, Melissa se lewe was nie altyd sonskyn nie. Vandag is hulle ligjare verwyderd van dit wat gebeur het. Hulle het doelbewus besluit om die lewe te kies, die rug op die swaar en seer te draai. Elna Rossouw het met dié voormalige Mej SA en haar dierbares gaan kennismaak.

Wat is die gom van jul verhouding?
Wanda: Eerlikheid, lojaliteit en genade met mekaar wanneer ons foute maak. Ons beskerm mekaar teen ‘n (soms) wrede wêreld daarbuite.
Melinda: Ek dink die gom van ons verhouding is gedeelde lewenservaringe en wedersydse respek en bewondering. Ons unieke sin vir humor; die eerlikheid tussen ons, ons liefde vir kuns, musiek en kritiese denke, én ons diep geloof en vertroue in die Here vorm deel daarvan. Net ons ken die volle omvang van elkeen se storie en die bewondering en respek wat ons vir mekaar se groei én blom het, is beslis die gom.
Hoe verskil julle van mekaar?
Wanda: Melinda is ‘n natuurlike celebrity met ongelooflike styl. Sy is ook baie streetwise. Ek het baie beskermend grootgeword en nooit regtig buite my Christelike konteks gesosialiseer, na enige ander musiek as geestelike musiek geluister, of enigiets gedoen wat jongmense ‘n groter en wyer lewensperspektief gee nie. Melinda kan haarself in enige situasie gemaklik maak en met selfvertroue optree. Sy is ongelooflik met stilering en binnenshuise versiering. Dis iets wat ek by haar en haar sussie, Melissa, geleer het.
Melinda: Ons is in baie opsigte baie dieselfde: I am my mothers daughter! My moeder is uitstekend om goed te ontleed en om die pad vorentoe uit te stippel. Ek is iemand wat droom oor al die moontlikhede en my pad moet terugvind tot by die hier en nou.

Wanneer is jou dogter/ma vir jou op haar mooiste?
Wanda: Wanneer sy met deurmekaar hare, kaalvoet in haar nagklere op die mat met haar twee kleingoed speel. Wanneer sy kreatief kan wees en wanneer sy vir ander mense meer doen as vir haarself. Haar fokus is altyd om te gee en nie alles oor haarself te maak nie.
Melinda: My ma is ’n uitsonderlike mooi vrou en haar gesig vertel vir my stories. Sy is in elke konteks vir ‘n ander rede vir my mooi. Maar vir my is sy op haar mooiste is as sy so uit haar maag lag dat haar neus kreukel en haar ogies sulke klein skrefies trek! (Dikwels as ek of Melissa een of ander snaakse of onvanpaste ding kwytgeraak het).

Wat is die impulsiefste ding wat julle nog gedoen het?
Wanda: Om hulle soms vir ‘n dag te hou uit die skool te hou, saam te gaan fliek en ‘n girls-dag te hê − juis om hulle vir ‘n oomblik van die moeilike omstandighede by die huis te laat vergeet. Hierdie het bygedra tot die sisterhood en sterk band tussen ons.
Melinda: My ma het dikwels toe ons nog op skool was ons op ‘n random dag fliek toe gevra. Dit het oomblikke geword wat ons gekoester het.
Ons probeer nou elke jaar op ‘n girls’ week weggaan waar ons lawwe en spontane oomblikke skep en vorige wegbreke herleef.
Nog ‘n impulsiewe oomblik was toe my ma besluit het om saam met Melissa ‘n neusring te kry. Ook toe ons onlangs op ’n vliegtuig gespring het en my ma vir haar 60ste verjaardag na die mooie Franschhoek te neem. Die gegiggel en gesels het tot die vroeë oggendure geduur en ons kon saam van ons daaglikse roetines ontsnap.
Lees ook: WEN ’n SKIN Willem Botha Beauty-geskenkpak ter waarde van R2 700!
