Deur: Maryke Roberts. Foto’s: Gareth van Nelson
Baie van ons dra ’n nostalgiese herinnering in ons harte van ’n ouma of groottante se pragtige kwilt wat iewers ’n koperbed in ’n kamer versier het. Miskien het jy dalk selfs daardie mooie stuk handwerk geërf.
Die geskiedenis van kwiltwerk – die aanmekaar stik van lae vulsels en lap – dateer moontlik terug tot 3400 v.C. Vir ’n groot deel van sy geskiedenis was kwiltwerk hoofsaaklik ’n praktiese tegniek om beskerming en isolasie te bied. Soldate het dit onder hul swaar wapenrusting gedra en dit het in oorlogtye kalmte aan gewonde soldate gebring.
Maar die bes-bewaarde kwilte wat in museums wêreldwyd uitgestal is, is as kunswerke gemaak en hang teen mure, dikwels agter glas.
Kwiltwerk is gelukkig nie ’n vergete kunsvorm nie. Die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde het 11 streekstakke met lede in elke uithoek van die land. Elke streeksgilde kies ’n verteenwoordiger, wat op die nasionale komitee dien.
Die publiek kry af en toe die rare voorreg om van hierdie lede se pragtige handwerk op skoue te sien, soos by die pas afgelope Fynbos-kwiltskou op Hopefield aan die Weskus.

Een van hierdie lede, Dewald Compion van Durbanville, se kwiltstorie begin ook by ’ n tante. Hy vertel: “Ek onthou met liefde hoe my tante, Céleste Compion, my ongeveer 30 jaar gelede gewys het hoe om handkwiltwerk te doen. Nie in my wildste drome sou ek ooit kon dink hoeveel daardie aand vir my sou beteken nie.”
Dewald is bedags ’n mediese praktisyn en “kwiltwerk red my snags en oor naweke”. Hy het dié stokperdjie in 2016 begin. “Ek wou iets maak. Ek het probeer skilder, brei, pottebakkery, hekel, naaldwerk doen, maar ek was mal oor kwiltwerk, want ek hou daarvan om met materiaal te werk. Daar is skoonheid en iets magies aan die teksture en afdrukke van materiaal, selfs voordat jy dit begin sny. En dan kan jy daarmee speel!”
Hy vertel: “Ek wou maar altyd met mense werk en om medies te gaan swot, het soos ’ n natuurlike stap gevoel. Ek werk as algemene praktisyn in die Medicross-groep – ek is ook al meer as 20 jaar in die praktyk, so dit voel soos familie.”
Dewald se pragtige handewerk
Lees die volledige artikel in ons Desember-uitgawe. Dis nou op die rakke en propvol interessante inhoud!

Lees ook: Meer oor Melinda en haar ma










