Episode vyf van Op my eish! het romanse tot nuwe hoogtes gevoer, maar ook gewys Ruan se reis na liefde gaan nie net oor vlinders en vonke nie. Tussen ’n doolhof-uitdaging, oop gesprekke, nóg ’n soen en groeiende spanning tussen die dames, moes Ruan reeds in die middel van die episode ’n onverwagse wending hanteer toe een van die vroue self gekies het om huis toe te gaan.
Ruan het vier dames – Charlene, Minette, Saartjie en Maritha – na Amorentia Estate geneem vir ’n dag vol speletjies en romantiese moontlikhede. Die uitdaging was eenvoudig, maar nie maklik nie: Die vroue moes Ruan in ’n doolhof opspoor, en die eerste een om hom te vind sou ’n alleenafspraak wen. Al het Ruan geskree en probeer help, het die dames behoorlik rondgehardloop en gesukkel – totdat Maritha uiteindelik eerste by hom uitgekom het.

Terwyl dié groep besig was, het die ander dames langs die swembad ontspan, drankies geniet en sommer ook oor Saartjie gesels. Daar was ’n ligte debat oor of “Saartjie” wel haar regte naam is.
Later het Charlene, Maritha, Saartjie en Minette saam met Ruan onder die bome vir ’n piekniek aangesit. Ruan het die spanning in die groep direk aangespreek en gevra of daar enige ongemak tussen die deelnemers is. Minette het erken daar is wel ’n bietjie spanning, en Charlene het dit beaam.
Charlene het daarna alleentyd met Ruan gekry, en toe hy haar vra of sy dink daar kan ’n moontlike konneksie wees, het sy sonder huiwering geantwoord: “Dis ’n dom vraag! Daar is definitief ’n konneksie. Kan ek so ver gaan om te sê daar is chemistry?”
Minette se een-tot-een-gesprek met Ruan was ook vol romantiese belofte. Ruan het dit duidelik gemaak dat sy nog lank deel van die reis sou wees. “Ek sien baie uit na die volgende paar weke wanneer die dames bietjie minder raak en dinge meer intiem raak,” het hy gesê. Minette het ná die gesprek gevoel alles is klopdisselboom tussen hulle: “Dit was vir my lekker om daar weg te stap en te voel ons het ’n wedersydse begrip van hoe ons oor mekaar voel en die potensiaal wat daar is.”
Daarna was dit tyd vir Maritha se romantiese alleenafspraak. Die twee het ’n intieme ete langs die rivier geniet, vol flirtasie en grappies. Later, toe hulle gemaklik op ’n kombers lê, het die speelse oomblik oorgegaan in iets meer – en Maritha het haar eerste soen van Ruan gekry.

Die grootste verrassing het die volgende dag gekom toe Caitlin aan Ruan se deur kom klop het om te vra of hulle kan praat. In ’n eerlike en emosionele gesprek het sy verduidelik dat sy besluit het om huiswaarts te keer. “Dit was ’n baie moeilike besluit,” het sy gesê. “Ek sou Ruan graag beter wou leer ken het, maar ek het ander verpligtinge en sou nie ten volle teenwoordig kon wees nie.”
Caitlin het verder verduidelik dat haar werk en persoonlike verantwoordelikhede – insluitend haar hond – vereis dat sy haar fokus elders plaas. “Ek het gevoel dat ek nie ten volle vir die afsprake kon opdaag nie,” het sy erken. “Ek wou nie ruimte in die reis opneem as ek nie volkome kon deelneem nie, en dit het net reg gevoel om ’n ander vrou ’n behoorlike kans met Ruan te gee.”
Al was dit hartseer om te groet, was daar geen spyt nie. “Ek sou graag langer wou bly, maar ek is nie spyt dat ek vertrek het toe ek dit gedoen het nie,” het sy gesê. “Ek glo dit was die regverdige besluit vir beide Ruan en die ander vroue.”

Die aand het die spanning egter weer begin opbou tydens ’n pool party wat vir Ruan en die dames gereël is. Om die ys te breek, het Ruan ’n ja/nee-speletjie voorgestel – met ’n eiervrug vir “nee” en ’n perske vir “ja”. Wat as ’n speelse aktiwiteit begin het, het gou ernstiger geraak toe vrae oor spanning en opregtheid in die groep op die tafel beland het. Twee duidelike kante het na vore gekom, met Cindy wat kommentaar gelewer het oor deelnemers wat volgens haar anders optree voor Ruan en die kameras, terwyl Charlene en Maritha sigbaar ongemaklik was met die rigting waarin die speletjie beweeg het.
Ná die speletjie het Ruan besluit om Saartjie beter te leer ken. As ’n laat toetrede tot die groep was dit hul eerste alleentyd, en dit het haar verras. “Ons het baie dieper gepraat as wat ek verwag het,” het sy gesê, ’n aanduiding dat haar teenwoordigheid moontlik nog ’n groot rol in die reis kan speel.
Met nuwe soene, oop harte, toenemende spanning en ’n dame wat uit eie keuse gegroet het, was dit duidelik: Ruan se pad na liefde raak al hoe meer kompleks – en die spel het pas werklik begin.

Op my eish! word elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.


