Spinasie-en-ricotta-kluitjies deur Vickie de Beer. Kosassistent: Margie Els-Burger. Foto: Michael le Grange
Genoeg vir 6-8.
Bestanddele
Vinnige tamatiesous
- 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
- 1 ui, gekap
- 1 knoffelhuisie, gekneus en fyn gekap
- 1 x 400 g-blik heel tamaties, fyn gedruk met ’n vurk
- hand vol pietersielie, gekap
- ’n paar vars basiliekruidblare
- sout en gemaalde swartpeper
Kluitjies
- 60 ml (¼ k) botter
- 300 g spinasie, deeglik gewas en wit stingels verwyder
- 200 g ricottakaas
- 75 ml (¼ k + 1 e) koekmeel
- 2 eiers, liggies geklop
- 40 g parmesaan
- gemaalde swartpeper en sout
- raspertjie neutmuskaat
Metode
- Sous: Verhit die olie in ’n kastrol oor matige hitte en soteer die ui en knoffel tot goudbruin. Voeg die tamaties by en prut vir 10 min. Meng die pietersielie en basiliekruid deur. Geur na smaak en hou warm.
- Kluitjies: Sny die spinasie in repies en dompel in ’n kastrol kokende water. Dreineer omtrent dadelik.
- Smelt die botter in ’n pan oor matige hitte en braai die spinasie daarin tot droog.
- Roer die ricotta en koekmeel by. Meng die eiers en parmesaan by. Geur met swartpeper, sout en neut. Meng deeglik. Trek van die hitte af en rol in balletjies.
- Maak ’n kastrol drie kwart vol water en laat prut die water. Kook die ricottakluitjies in sarsies tot hulle na bo dryf. Skep met ’n gaatjieslepel uit. Herhaal met die res.
- Sit die kluitjies met die tamatiesous voor.

