Sy skrik nie vir ’n mikrofoon, kamera óf raadsaal nie

Deur Rentia Mynhardt. Foto’s: Verskaf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Charlene Lackay (néé Truter) is ’n opregte pêrel uit die Boland. Hierdie donker- én slimkop maak ’n impak; of dit nou in die Afrikaanse taal en kultuur is, of in die korporatiewe wêreld.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Toe talente uitgedeel is, het Charlene beslis in die kort ry gestaan, want dit is sowaar min mense wat op soveel uiteenlopende plekke kan presteer. Boonop is haar twee voete vierkantig op die aarde en is sy, te midde van alles wat sy bereik, ’n doodgewone mens wat haar seëninge een vir een met groot dankbaarheid tel, haar passies uitleef, en haar gesin en elke geleentheid wat haar pad kruis met nederigheid geniet.

Charlene moes reeds ná matriek geweet het waar haar sterk punt lê toe sy vir seker die regte studierigting gekies het en haar BA-graad cum laude geslaag het. As Matie het sy nie net agter die boeke gesit nie, maar ook in die Libertaskoor gesing. Dit was juis ’n medekoorlid wat haar van Naspers se beurse vertel het, en só kon sy haar BA-honneursgraad voltooi. Sy het vir Maties se tydskrif begin skryf en kon ook uiteindelik ’n meesterstoga in joernalistiek oor haar skouers trek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Haar loopbaan het by Sarie met ’n internskap afgeskop en sy is later as subredakteur van Die Burger aangestel. As vryskutskrywer en -vertaler het sy met woorde gewoeker, maar kort voor lank is sy as aanbieder raakgesien. Behalwe dat sy as veldaanbieder van Pasella op SABC 2 die land platgereis het, het sy ook agter RSG se mikrofoon ingeskuif waar sy ná die geboorte van haar oudste dogtertjie die baba- en kleuterprogram “Brabbeltyd” aangebied het en ook die nuus gelees het. Charlene het onlangs by kykNET se Ontbytsake-span aangesluit waar sy Saterdagoggende onderhoude met veral vroue in die sakewêreld voer.

’n Vollediger mediapakket kan jy amper nie kry nie, want sy skrik nie vir ’n pen, ’n mikrofoon óf ’n kamera nie! Verder kan sy nie net praat nie, maar haar stem het haar al op plaaslike en internasionale verhoë laat beland.

“Ek het sang by Magdalena Oosthuizen studeer wat aan die Konservatorium verbonde was. Later het ek ook sanglesse by Magriet Deysel en Jean Stuart in klassieke musiek geneem.”

Charlene vertel van haar optredes in Europa, waar sy ook ’n ruk lank in Berlyn gewoon het. Haar voorliefde vir akoestiese musiek, wat slegs ’n stem en instrument behels, is duidelik, en sy deel ook hoe sy al oor die jare ’n paar liedjies geskryf het. Musikale interpretasie sal egter by haar ’n voorkeur bly. “Ek is baie aangetrokke tot die storievertelstyl van ikoniese kunstenaars, soos Jannie du Toit en Laurika Rauch.”

Die sakewêreld het Charlene tien jaar gelede nader geroep en sy het by Momentum as hoof van eksterne kommunikasie begin werk. Nie lank daarna nie is sy tot groepshoof van korporatiewe maatskaplike investering, oftewel CSI soos dit in die sakewêreld bekend staan, van die Momentum Metropolitan Groep bevorder, en deesdae staan sy aan die hoof van Volhoubaarheid. “In my tyd by CSI was een van my projekte waarop ek die trotsste was die WeThinkCode, waar ons veral jong vroue in kodering opgelei het om geslagsongelykheid in hierdie veld teen te werk. Al is die rol wat ek in die korporatiewe wêreld vervul baie anders as in die media, gebruik ek tog baie van dieselfde vaardighede. Die ooreenkomste is baie interessant.”

Sy het nie ’n voorkeur as dit by die verskillende genres in die media kom nie. Met die stempel wat Charlene tot dusver in die bedryf afgedruk het, het sy wel respek vir die uniekheid van die verskillende style en voel sy dat elkeen op sy eie manier skitter: “Radio is intiem, TV is vinnig met hoë energie, en kreatiewe joernalistiek laat jou toe om die muse te gaan soek.”

Kyk jy na hierdie brunette met die groot, helder oorbelle terwyl sy spierwit glimlag en gereeld hardop tydens haar onderhoude lag, sou jou eerste gedagte wees dat sy geensins ’n introvert is nie. Sy sien haarself egter heel anders.

“Ek is eintlik glad nie ’n ekstrovert nie! Ek stel regtig net belang in die mens wat voor my sit met wie ek ’n onderhoud voer. Dít is wat my opgewonde maak en my laat ophelder. Agter die skerms verkies ek bo enigiets  stilte en gesinstyd.”

Charlene woon saam met haar man, Adrian, en twee dogtertjies, Mia en Ava, in Pretoria waar sy ’n meer privaat lewe saam met haar gesin verkies. Sy en haar man het mekaar reeds op skool ontmoet. As gesin gaan eet hulle graag saam uit, stap, steek ’n vuurtjie aan, kyk flieks of speel bordspeletjies. “My kinders het my geleer om oukei daarmee te wees om soms foute te maak, en ook dat dit oukei is om nie altyd al die antwoorde te hê nie. Kinders leer jou ook om geduld te hê, want hulle gaan na alle waarskynlikheid nie dink en doen soos wat jy dit altyd wil hê nie!” As mamma wil sy graag haar dogters leer om respek te betoon en liefde te gee; eers vir jouself, en dan vir ander. “Hierdie twee goed werk nie na buite as dit nie eers binne jouself uitgesorteer is nie.”

’n Besige loopbaan, moederskap en ’n huwelik eis alles hul pond vleis en dit verg soms ’n definitiewe keuse om balans te probeer handhaaf sodat die warboel jou nie heel insluk nie. Charlene het geleer om te midde van ’n volgepakte dag ook vir haarself tyd te maak: “Ek doen byna daagliks joga. Wanneer ek op daardie mat klim, vat ek net mooi niks anders saam met my nie. Ek mediteer ook elke dag. Dit is hoe ek geanker bly en fokus behou.” Sy vertel hoe sy eindelose genot uit volwasse inkleurboeke put. “Ek het letterlik honderde kleurpenne wat ek daarvoor gebruik! Terwyl ek inkleur, maak die kinders saam met Pappa kos. Dit is vir my net so lekker om na potgooie te luister of sommer net in die tuin met ’n koppie tee te sit.”

Enige loopbaan het hoogte- en laagtepunte. Charlene sʼn ook. Sy beskou haar tyd by RSG as ’n wonderlike tyd in haar lewe wat vir haar verskeie wêrelde oopgemaak het. “’n Laagtepunt vir my was toe daar aangekondig is dat Pasella aan die einde van sy rakleeftyd gekom het. Al was ek in daardie stadium lankal nie meer by Pasella betrokke nie, was dit regtig vir my baie hartseer en het dit nogal vir my soos die einde van ’n era gevoel.”

Wat haar korporatiewe loopbaan betref, vier Charlene vanjaar ’n dekade van betrokkenheid by die Momentum Metropolitan Groep. “Die groep het onlangs die eerste versekeraar in Suid-Afrika geword om ’n vrou as hoof- uitvoerende beampte aan te stel. Ek dink dit is fantasties en tekenend van hoe ernstig die maatskappy diversiteit beskou en dat hulle in die impak glo wat vroue kan maak. Jeanette Marais verdien hierdie aanstelling deur en deur, en ek is opgewonde om te sien watter suksesse onder haar leiding bereik gaan word.”

Dit is opmerklik om te sien hoe Charlene se tone krul as sy vertel van vroue wat sukses in die Suid-Afrikaanse sakewêreld behaal, en jy kan nie anders as om te verstaan hoekom haar rol by Ontbytsake haar soos ’n handskoen pas nie.

“Wat natuurlik altyd ook vir my ’n groot jammerte is, is wanneer ons land goeie talent weens emigrasie verloor.”

Die mylpale en merke wat reeds op Charlene se kerfstok lê is prysenswaardig, en dit getuig van ’n vrou wat carpe diem haar leuse maak. Tog sien sy haarself as ’n gewone vrou sonder voorgee wat glad nie as ’n supervrou geklassifiseer wil word nie. Sy is ’n mens wat soos almal kop bo water probeer hou, soms water trap as dit moet, en regtig haar voorregte raaksien en waardeer. Daarby hou sy ook aan met droom: “Dit sal fantasties wees om eendag ’n geselsprogram te hê. Ek het ook nog ’n kinderboek hier êrens binne my. Dan is daar natuurlik ook nog die droom om eendag iets in die kleine op die verhoog te doen.”

Om ’n stem te hê wat gehore in banketsale én oor die radio se luidspreker kan vermaak, om ’n gesig te hê wat perfek op die kassie pas, en om boonop ’n persoonlikheid en heeltemal genoeg verstand te hê om ’n professionele rol in kantoordrag te vertolk, sê net een ding: Charlene Lackay is hier om te bly.

Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger

rooi rose en Ontbytsake op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus in 2023 op ’n nuwe reeks – vrouesake. Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.

Lees ook: Dr Hlamalani Ngwenya val, staan op, bons terug en vlieg dan hoër

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Hoe gedrukte foto’s jou kind se waarde bevestig

Hoe gedrukte foto’s jou kind se waarde bevestig versorg deur Mariette Snyman. Foto's Pexels “Gedrukte…

17 hours Gelede

Die regte medisyne vir verkoue

JY KAN jou seer keel en koors self dokter én stukke beter voel. Ons wys…

21 hours Gelede

Wynproe en stap: Die nuutste ervaring by Blaauwklippen

Woorde en foto’s: Clifford Roberts Ek wil glo dat, soos ek, elke nuwe staptog met…

2 days Gelede

Ontdek die topervaring waar alles met Club Med ingesluit is

As jy nie die konsep ken nie, stel ons jou graag daaraan bekend: Dis ’n…

2 days Gelede

Ons Moedersdaggeskenkgids: Kreatiewe geskenke wat wys jy gee om

rooi rose intekening Teken in of hernu jou intekening op die gedrukte weergawe vir net…

2 days Gelede

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.