kategorieë: LeesOntspanning

Vlam: Hoofstuk 15: Lojaliteit

Vlam: Hoofstuk 15: Lojaliteit deur Martie Swanepoel

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Het jy al die vorige hoofstukke van Vlam gelees? Klik hier om op te vang.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vlam: Hoofstuk 15: Lojaliteit

Na middernag is daar ’n oubekende kloppie aan Niekie se deur in morsekode: …. .- .-.. .-.. —

“Hallo.”

Sy weet.

Dis Marco Momple.

Sy ruk die deur oop.

“Wat de hel maak jy hier?”

Hy trek haar nader en soen haar in die nek.

“Bly om jou ook te sien!”

Marco stap reguit yskas toe en skink vir hulle elkeen ’n glas wyn in.

“Ek werk môre.”

Sy neem ’n sluk.

“Ek ook.”

Sy baard is ’n paar dae laas geskeer. Sy grys hare staan deurmekaar.

Daar fladder ’n duisend vlinders in haar maag.

“Waar kom jy vandaan? Jy kort ’n stort!”

Marco soek vergeefs in die yskas na iets om te eet.

“Burkina Faso.”

Sy weet dadelik waarvan hy praat. Die Franse magte en die Amerikaners het twintig gyselaars gaan bevry wat deur Islamitiese terroriste aangehou is.

“Het jy tyd vir ’n scoop?”

Hy het dadelik al haar aandag.

“Ek vlieg môre terug en ek kan jou saamvat. Daar is ’n Suid-Afrikaanse informant wat by die Islamitiese groep geïnfiltreer is. Hy is bereid om met jou te praat. Pak jou goed, ons vlieg agtuur.”

Marco kon haar nog altyd stoomroller. Hy dink in masjiengeweer-sarsies. Hy is opwindend en impulsief. Dit maak hom verslawend.

“Ek vlieg oor twee weke Cannes toe.”

Maar sy weet klaar sy gaan netnou haar sak pak en ’n e-pos vir Piet stuur. Piet gaan woedend wees, maar hy sal verstaan. Hy sal weet sy sal ’n goeie storie terugbring.

“So van Cannes gepraat. Ek hoor Duard Wayne het die reggiseur en vervaardiger aan die korthare beet oor die grensoorlog-draaiboek. Hy dreig om te onttrek omdat die teks nie feitelik korrek is nie. Hy is woedend. Het glo ’n spectacular vloermoer gegooi wat die heuwels om Beverley Hills geskud het.”

Nóú het Marco al Niekie se aandag. Dis die soort scoop waarvoor sy gewag het. Iets wat die irriterende voorbereiding vir Cannes die moeite werd sal maak.

“Waar hoor jy dit?”

Marco se oë vonkel. Hy weet Niekie eet nou uit sy hand.

“O, ek het ’n baie goeie informant. Iemand wat ’n sleutelrol in die fliek speel. Hy sê die manne dans rond om die fliek te red. Wayne is ’n taai ou. Hy gaan nie stuit nie. Hy het al onder erger druk as Hollywood gefloreer. Ek ken … Ek ken sy soort.”

Niekie skink nog ’n glas wyn in. Vanaand maak sy hierdie Fransman se tong los.

“O? Jy ken Wayne?”

Marco sluik die glas wyn met een teug af. “Ek het gesê ek ken sy soort.”

Maar Niekie wonder of sy nie dalk ’n aar raakgeboor het nie. Sy wonder al meer oor Duard Wayne se agtergrond. Hoe meer sy oor die akteur lees, hoe meer fassineer sy geheime haar. Hy het beslis iewers in sy lewe militêre ervaring gehad. Sy het weer gaan kyk na die aksietonele in sy flieks. Hy doen al sy stunts self.

Sy het selfs haar pa gevra om saam met haar meer intens na van die tonele te kyk. Kol. Niek Branders is ook daarvan oortuig Duard Wayne is iewers in sy lewe opgelei as soldaat. Intens opgelei.

Hy is toe nie ’n wannabe-soldaat soos hulle gedink het nie.

Niekie en haar pa vermoed agter die Hollywood-akteur skuil ’n diep geheim en ’n militêre agtergrond. Sy het haar vermoedens nog met niemand anders bespreek nie. Sy los dit vir Cannes. Dan gaan sy Wayne vaspen met ’n paar vrae.

Niekie hou Marco se glas vol wyn. Hy is moeg en kwesbaar en vanaand pas dit haar.

Sy pols hom eers oor Burkina Faso. Dan vang sy hom met ’n onverwagse vraag.

“Het jy nog kontak met van die ouens wat saam met jou in die Franse Vreemde Legioene was?”

Die baie wyn op ’n leë maag maak Marco nostalgies.

“Ek het lewenslange vriende gemaak. Lewenslank.”

Niekie zoom in op Marco se emosies. Sy voel aan dat daar iewers ’n verbintenis tussen Marco en Duard Wayne is. En sy gaan uitvind wat dit is.

“Jy het my een keer vertel van ’n vriend wat die hoogste orde van meriete gekry het? Légion d’honneur? Die dapperste man wat jy geken het? Wat het van hom geword? Hy was mos ’n skerpskutter?”

Marco ken Niekie goed genoeg om selfs deur die wynnewels te besef sy wil hom in ’n hoek vaskeer.

“Daar was baie dapper ouens. Ons was ’n broederskap. Sentraal-Afrika, die Ivoorkus, Afghanistan. Veral Afghanistan. Ons het baie saam beleef. Daar was ons 700 broeders onder kolonel Arnaud Durieux. Swaar tye. Goeie tye.”

Hy het haar al vertel van sy evaringe by die basis naby Kaboel, maar dié keer luister sy meer intens.

Marco is ervare en slim, hy noem nie name nie. Hy vertel weer die storie van sy skerpskutter-vriend.

Hulle het in Kaboel gewag om ’n konvooi in ’n hinderlaag te lei. Aan die oorkant van ’n plein het ’n skerpskutter van die vyandige mag skielik op voetgangers begin skiet. Daar was ’n vrou met ’n dogtertjie. Hulle het in ’n stegie weggekruip en dit was net ’n kwessie van tyd voor die vyandige skerpskutter hulle sou sien.

“Hy het geweet die skut sal geen genade toon nie, al is dit ’n vrou en kind. Hy het by ’n brandtrap afgesluip en hulle gaan red. Ongelukkig het ’n koeël uit die skerpskutter se geweer hom in sy regtervoorarm getref. Dit was die einde van sy loopbaan as skerpskutter. Ek was daar toe hy sy Légion d’Honneur ontvang het. Dit was die beloning vir al die ander kere wat hy my en ander mense se lewens gered het.”

Dit was tydens ’n lugbesetting en nagaanval op ’n klein dorpie teen die Afgaanse grens wat Marco Momple lewenslange getrouheid aan ’n dapper makker gesweer het. Tydens hulle onttrekking was hulle uit verskeie hoeke onder spervuur. Marco se vriend was in beheer van die teen-aanval en het vyandige skerpskutters se aandag op hom gevestig sodat Marco en die res van die groep kon onttrek.

“Die letsel teen sy slaap is vir my ’n groter herinnering aan sy dapperheid as al die medaljes waarmee hy vereer is. Sy uittrede uit die Legioene was ’n groot verlies.”

Niekie weet wanneer sy in ’n doodloopstraat is. Marco weet goed sy snuffel rond vir ’n naam.

“Vlam, daar is een ding wat jy van ’n geswore broederskap moet weet. Ons is broeders vir altyd. Ons is lojaal. Ek is my lewe aan hom verskuldig. Ek sal hom beskerm. Dit is een ding wat jy moet besef.”

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.