In die tweede seisoen van Een keer om die son, word dit vinnig duidelik dat Markus (Liam Bosman) verslaaf is aan pynpille. Hy sal enigiets doen om aan sy dansloopbaan te bou, maar met ’n enkel wat net nie wil saamspeel nie, voel hy pille is die enigste oplossing. Dis egter nie net die enkel nie. Markus sukkel met angsaanvalle net soos sy ma, Lani (Jana Kruger), wat ook daarmee geworstel het.
Wanneer dit by verslawing kom, is Markus beslis nie die enigste een wat met hierdie probleem sukkel nie. Verslawing aan voorskrif-pynstillers is wêreldwyd ’n krisis en die dwelmprobleem wat die vinnigste in Amerika groei. Volgens die Suid-Afrikaanse Raad van Psigiaters sukkel een uit vyf volwassenes met chroniese pyn en is sowat sewe persent van persone wat in rehabilitasiesentrums opgeneem word daar omdat hulle aan voorskrifmedisyne verslaaf is.
“Ons wou ’n storielyn van verslawing vir Markus skep veral binne sy karakter wat ook met angs en depressie sukkel,” sê Ivan Botha, regisseur en mede-skrywer van Een keer om die son. “Ons wou ’n verslawing vind wat nie algemeen is soos byvoorbeeld harde dwelms of drank is nie, maar iets wat alledaags is; ’n verslawing wat as’t maklik kan gebeur. Daar is verskeie mense waarvan ons weet wat amper onskuldig aan pille soos pynpille of slaappille verslaaf geraak het. Markus se storielyn was ook ’n manier om sy pa, Ruan (Jacques Bessenger), te betrek om hulle verhouding te verdiep.”
“Die relevansie van verslawing vandag is in die klein gewoontetjies wat mense nie besef ’n probleem kan raak nie,” sê Donnalee Roberts, wat nie net die rol van Amé speel nie, maar ook mede-regisseur en -skrywer is. “Selfs sosiale media en die impak wat skermtyd op mense se lewens het, is verslawings wat amper ongesiens ’n probleem kan word.”
“As skrywers voel ons sterk dat dramareekse kwessies soos hierdie moet aanspreek,” sê Ivan. “Dinge soos angs, depressie, selfood, verslawing soos in hierdie geval, die sonde van die vaders oftewel hoe die verlede ’n invloed op jou lewe kan hê. Mens kan swaar kwessies aanspreek en daar sal altyd kykers wees wat daarby aanklank gaan vind. Ons wil nie lessies leer nie en het nie al die antwoorde nie, ons hou net ’n spieël op vir die kykers om in te kyk en begin daarmee gesprekke. Een keer om die son kry dit so mooi reg om die lig en donker van die lewe vas te vat en dit was nog altyd ons doel. Dis nie net swaar nie. Dis die vloei tussen die mooi en die seer van die lewe wat ons probeer uitbeeld.”
“Ons voel baie passievol daaroor dat karakters en storielyne, soos hierdie een met Markus, oor die vermoë beskik om gesprekke oop te breek en genesing te bring,” sê Donnalee. “Mense moet weet hulle is nie alleen nie.”

Hoe maklik kan jy verslaaf raak?
Dit gebeur nie oornag nie, sê David Bayever, Drugwise-konsultant vir die SA Farmaseutiese Vereniging. “Diegene wat verslaaf raak, gebruik pynpille lank aaneen – hulle is byvoorbeeld ná ’n operasie vir langer as drie weke op pynpille, wat lank genoeg is om die brein ’n voorkeur vir kodeïen te laat ontwikkel.
“Die probleem kom wanneer hulle ophou sodra die operasiepyn weg is. Pyn is toevallig een van die onttrekkingsimptome wat jy gaan ervaar as jy ophou om kodeïen te gebruik. Jou brein sê dus vir jou: jy het pyn, drink ’n pynpil. En drink jy die pynpil, sê jou brein: sjoe, dit werk goed. Kyk hoe lekker voel jy nou. En so begin die bose kringloop.”
Daar is nog ’n kwessie: jou gene. Sowat tien jaar gelede is vasgestel dat mense met baie CYP2D6-aktiwiteit kodeïen supervinnig verwerk en in reuse-hoeveelhede morfien omskakel. Vermoedelik raak hierdie mense makliker as ander aan kodeïen verslaaf. Tot 15% van Afrikane is supervinnige metaboliseerders, teenoor slegs 1% Chinese.

Is afhanklikheid van pynpille ’n regte verslawing?
Beslis, sê David. “Al verskil is dat jy kodeïen wettig by enige apteek kan koop.”
Dit is waar, sê Tertius Cronjé van SANCA (SA Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels). “Die WGO sê sowat 36 miljoen mense wêreldwyd is verslaaf aan kodeïenpynpille. In Suid-Afrika is een uit elke vyf mense op ons staat se dwelmrehabilitasieprogramme aan kodeïen verslaaf, meestal saam met ’n ander dwelm soos drank of heroïen.
Dit is skokkend om te dink dat gewone mense soos ek en jy ons breine ontvankliker vir heroïen maak deur doodeenvoudig ’n paar pynpille vir iets soos spanningshoofpyn te drink. En so onskuldig en onbepland dwelmslawe kan raak.

Wat as jy reeds verslaaf is?
Gestel jy klou reeds sterk vas aan jou pynpille? Dan is dit tyd om te stop, sê Tertius.
Jy kan geleidelik stop of doodstop. Hoe langer en hoe groter die hoeveelhede wat jy gebruik het, hoe intenser is die onttrekkingsimptome. Jy kan ook jou dokter vra om iets voor te skryf om jou oor die ergste onttrekkingsimptome te help.
“Die onttrekking is nie lekker nie. Jy kan enige van die volgende verwag: bewerigheid, sweterigheid, diarree, maagkrampe, naarheid, spierpyn, gapery, ’n loopneus, ’n toe neus, kwyling, vinnige asemhaling en/of hoendervleis. Die angs, geïrriteerdheid, algemene verwardheid en ’n smagting na jou gewone pynpilverligting vang die meeste mense die ergste.
“Hou net uit. Dit gáán verby. En as jy regtig vasbrand, help ons by SANCA graag,” sê hy.
Toets jouself
- Gebruik jy nou meer pille as drie jaar gelede?
- Jy het nie ’n spesifieke pyn of ’n spesifieke rede soos ’n operasie wat jou pyn verklaar nie.
- Jy het eerder algemene pyn soos spierpyn of ’n dowwe hoofpyn. Jy het al gewonder of jy chroniese moegheidsindroom (jappiegriep) of fibromialgie het.
- Jou pyn raak nie, soos ander mense s’n, al ligter na ’n tyd nie. Dit is konstant deel van jou lewe.
- Sodra die pynpil uitwerk, is die pyn terug.
- As jou pynpil uitgewerk is, kry jy enige van die volgende: maag- en spierkrampe, jy is naar, jou neus loop, jy sweet skielik meer, en jy slaap verskriklik sleg.
- Pynpille werk baie doeltreffend vir jou pyn.
- Pynpille laat jou dadelik ‘normaal’, gemaklik en ontspanne voel. Jy kan aangaan met jou lewe.
- As jy sukkel om te slaap, werk ’n pynpilletjie of drie uitstekend.
- Jy het ’n gunstelingpynpil. Die ander werk nie.
- Jy het altyd daarvan in voorraad – in jou handsak, tuis, by die werk, in die motor …
- Jy vra jou dokter altyd vir ’n voorskrif vir pynpille, selfs al is jy daar vir ’n oogtoets.
- Jy het al jou pynpille gelos maar dan het jy soveel meer pyn. Jy is iemand met ’n lae pyndrempel.
- Jy bly stil oor hoeveel pynpille jy gebruik; dit is jou privaatheid.
- Jy koop pynpille by ’n aantal verskillende plekke.
- Jy is besonder hardlywig.
Kry hulp
Dink jy jy is reeds vasgedraai in verslawing? Bel SANCA by 011 892 3829 of stuur ‘n WhatsApp na 076 535 1701.
Lees ook: Talle teaterlegendes deel van Suidoosterfees 2026 se NATi Teaterfees-program
