kategorieë: InspirasieJou lewe

70 topwenke vir geluk

Meer sexy

Kry jou eie lyf lief

1 Dr. Ann Kearney-Cooke, ’n Amerikaanse sielkundige wat pasiënte help om probleme met hul liggaamsbeeld op te los, sê ons leer ander eintlik om krities na ons figure te kyk as ons gedurig ons eie foute uitwys. Hou op praat oor jou dik bobene / selluliet / boepmagie voor jy later gemakliker is met kritiek as met komplimente. Hoe meer jy van jou eie lyf hou, hoe sexier sal jy voel. Beklemtoon die mooiste dele van jou lyf, en maak vrede met die res.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

2 Dra altyd mooi onderklere.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Lees ook: Hou jou onderklere in ’n goeie kondisie

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

3 Antropoloë verduidelik dat oermanne van altyd af geswymel het oor ’n vrou met ’n glansende vel, rosige lippe en ’n blos op die wange – dit was die natuur se manier om te wys sy is op haar vrugbaarste. Lippe is sinoniem met soen, en soen word as een van die intiemste dade beskou. Vestig die aandag op jou soenbare mond deur altyd lipglans aan te wend, en gebruik minstens een maal per week ’n skropmiddel en masker vir jou gesig.

Lees ook: Waag dit om rooi lippe te dra

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

4 Smeer soggens én saans room aan jou hele lyf – dis nog ’n manier om vriende te maak met die lyf waarin jy elke dag woon.

5 Wees sexy, al voel jy dit nog nie.

6 Verken jou lyf sodat jy jou maat kan vertel presies wáár al jou skakelaars sit.

Foto: rooi rose

… en laat hy jou lyf liefkry

7 Hou op om seks te vermy omdat jy skaam is vir jou lyf. Die blote feit dat jou man toenadering soek, beteken jou “figuurfoute” is vir hom baie minder belangrik as vir jou.

8 Onthou, sexy vroue wag nie “om in die bui te kom nie”. Hulle skep die bui.

Lees ook: Hoe om beter oor seks te praat

9 Goeie seks begin ure voor die daad. Voorspel kan begin met sexy SMS’e, ’n stomende e-pos, of ’n briefie in sy kosblik. Vertel hom presies wat jy met hom wil doen as hy vanaand by die huis kom.

10 Al gehoor van tantriese seks? Die doel van dié antieke tegniek is om jul passie so lank uit te rek dat albei so lank moontlik net onder seksuele kookpunt bly, en al vyf sintuie word daarvoor ingespan. Dit help nie jy het die hele dag aan voorspel bestee as die huis soos ’n oorlogsone lyk en klink nie. Sorg vir ’n kalm, rustige atmosfeer vandat hy sy voete oor die drumpel sit. En vir ’n rustige, mooi plek iewers in jou huis.

11 Seks begin ook in jou neus. Geure soos sandelhout, muskus en jasmyn is goed vir die libido – bad saam in hierdie aromatiese olies, of meng dit met ’n draerolie soos amandelolie vir ’n sensuele massering, of brand kerse met dié geure vir ’n romantiese atmosfeer. Behalwe dié drie reuke, meen gesondheidsghoeroe Patrick Holford, is ilang-ilang, vanielje en patchouli ook net die ding om jou maat mee te verlei.

Lees ook: Skep ’n romantiese badkamer

12 Refleksoloë sal jou vertel dat die voete verbind is met elke liggaamsdeel en orgaan. Begin af en toe jou liefdespel met ’n goeie voetmassering.

Lees ook: 5 stappe tot sagte voete

13 Probeer vanjaar elke ander vertrek in die huis, en glip by ’n partytjie gerus saam weg vir ’n vinnige vry (of dalk ietsie meer … )

14 Lê lepel vóór seks, skryf Kenneth Ray Stubbs, skrywer van The Essential Tantra (JP Tarcher Putnam, 2000). Konsentreer op die ritme van jou maat se asemhaling en probeer later saam in- en uitasem. So word julle een nog lank voor die seksdaad.

15 Die volgende stap is behoorlike oogkontak – sonder dat julle aan mekaar raak – vir minstens ’n minuut of twee. (Tantriese gidse beveel aan dat julle kruisbeen oorkant mekaar sit, maar doen wat vir jou werk.)

16 Eers hierna mag julle begin streel – maar op al die ander plekke as die dele van die lyf wat met seks geassosieer word. Kenners meen die gemiddelde man trek dikwels aan die kortste ent as dit by liefkosing kom omdat ons vroue nie besef hoe baie erogene sones hulle eintlik het wat wag om ontdek te word nie. ’n Paar voorbeelde: die “vlies” tussen sy duim en voorvinger (en dis voorspel waarmee jy al aan etenstafel kan begin) is baie sensitief vir aanraking. Sy oorlelle, binnebeen, kuite en selfs die haksening is almal … uhm, wel, ’n Achilleshiel, mits jy reg vryf, knie en streel.

17 Maak jou bene tóé tydens die liefdespel, ongeag die posisie, skryf seksskrywers Em & Lo. Dit sorg vir meer plesier vir jou (en ook vir hom.) Gaan loer by emandlo.com vir die A-Z van boeke oor goeie seks.

18 Sê en wys presies waarvan jy hou. En as jy te skaam is om dit van aangesig tot aangesig te vertel, stuur ’n e-pos waarin jy jou fantasie of begeerte beskryf. Jou man sal jou sméék om te eksperimenteer.

19 En die maklikste manier om weer sexy te voel? Slaap kaal, ook die nagte wat julle nie seks het nie. (Goed, as jy dan eenvoudig móét slaapklere dra, hou dit sexy.)

Lees ook: Wat mans by ons oor seks wil weet

20 Doen dit net! Maak planne om die spontaneïteit terug te kry wat daar aan die begin van die verhouding was. Waag meer, wys meer, gee meer. Jy sal ’n gelukkiger man hê, en omdat seks endorfiene (goedvoelhormone) vrystel, sal jy ook sexier lyk en voel.

Foto: rooi rose

Gesonder

Die basiese beginsels

21 Begin by die heel begin as jy vanjaar gesonder wil wees: Was jou hande gereeld! Leer jou kinders ook om onnodige kontak met traprelings, hysbakknoppies en winkeltrolliehandvatsels te vermy. As jy jou hande vyf maal per dag deeglik was, kan jy jou kanse om siek te word in 2024 met 50% verminder.

22 Dr. Andrew Weil word as Amerika se ghoeroe op die gebied van alternatiewe medisyne en ’n lang lewensduur beskou. Sy topgesondheidswenk teen siektes soos kanker, hartkwale, diabetes en Alzheimer se siekte, is om meer omega 3-vette en minder omega-6-vette te eet. Omega-3-vette kom natuurlik voor in soja, lynsaad en olierige vis soos sardyne, makriel en salm. Nog goeie nuus is dat twee teelepels lynsaad 7 van die 18 g vesel verskaf wat jy per dag nodig het. Strooi dit oor jou kos of slaai, of drink ’n goeie omega-3-aanvulling, of lynsaadolie-kapsules. (Terloops, lynsaad help ook om warm gloede te verminder.) Verminder jou omega-6-inname deur minder kos te eet wat in olie gaargemaak is.

Lees ook: Omega-3: die slenters

23 Uit ’n studie wat navorsers tussen 1993 en 2006 aan die Universiteit van Cambridge onderneem het, het dit geblyk dat 4 gesonde gewoontes jou lewe kan verleng: as jy nie rook nie, matig drink, vyf porsies groente en vrugte per dag eet én gereeld oefen, kan die gemiddelde mens tot 14 jaar by sy lewe voeg.

Lees ook: Eet jou hart gesond

24 Jy weet antioksidante beveg vrye radikale en help keer só hartkwale, kanker en aftakelende siektes soos Parkinson en Alzheimer se siekte. Jy weet dalk ook dat antioksidante jou geheue beskerm, pyn verlig, spierpyne verminder, moegheid keer en blindheid (veroorsaak deur makulêre degenerasie en katarakte) voorkom. Miskien weet jy ook dat antioksidante plooie voorkom. Maar wat jy dalk nog nie weet nie, is presies watter voedingstowwe as antioksidante gereken word en waar jy dit kry. Die heel beste is uit kos, maar andersins kan jy gerus ’n goeie aanvulling drink. Daar is veral sewe antioksidante wat wetenskaplikes gaande het oor hul helende kragte:

– selenium (in Brasiliaanse neute, en ook deesdae by sekere ontbytpappe gevoeg)
– vitamien E (in sonneblomsaad, haselneute en grondboontjiebotter)
– vitamien C (papaja, koejawel, soetrissie en broccoli is ryk aan vitamien C)
– karotenoïd (in wortels, botterskorsie en spinasie)
– isotiosianate (in broccoli, Brusselse spruite en blomkool)
– polifenole (donker sjokolade, rooiwyn, tee en koffie)
– ko-ensiem Q10 (maer beesvleis, hoenderborsies en vis)

Lees ook meer oor vitamiene en antioksidante

Foto: rooi rose

25 Kook met kruie – dit bevat baie gekonsentreerde antioksidante (7 mg roosmaryn bevat dieselfde hoeveelheid antioksidante as meer as 700 g broccoli).

Lees ook: Kook met kruie

26 Wees kwistig met vars knoffel – dis ’n natuurlike antibiotikum en anti-inflammatoriese middel, en versterk so jou immuunstelsel.

Lees ook: Jy kan knoffel room

27 ’n Appel per dag laat beslis die dokter wag. Dis vol antioksidante, bevat vesel wat cholesterol verlaag, verminder jou kanse op Alzheimer se siekte en bevorder longgesondheid. Dit doen ook wondere vir jou metabolisme.

Lees ook: Volledige koslys vir die Alzheimer MIND-dieet

28 Begin jou dag met hawermout – dis eintlik superkos, want dit hou jou bloedsuiker stabiel vir ure, bevat stowwe wat jou cholesterolvlakke verlaag en is goed vir jou spysverteringstelsel.

29 As jy nie van pap hou vir ontbyt nie, eet rogbrood. Dis bewys dit hou jou bloedsuikervlakke tot tien uur lank stabiel.

30 Stadig maar met die kunsmatige versoeters – die newe-effekte en invloede hiervan moet nog eers oor minstens twee generasies getoets word. Aspartaam word met breinskade, epileptiese aanvalle en inmenging met die hormoonstelsel verbind. Drink eerder ’n bietjie suiker in jou tee.

31 Onthou, borskanker is nie net ’n Oktober-siekte nie, maan dr. Carol-Ann Benn, voorste borskankerchirurg. “Ondersoek jou borste elke maand. En as jy ouer as veertig is, gaan vir ’n jaarlikse mammogram.”

Lees ook: Drink groentee vir Borskanker

32 Laat toets asseblief vanjaar jou vastende insulienvlakke. Doen dit soggens nog voor jy tee of koffie gedrink of geëet het. As jou vlakke bo elf is, is jy insulienweerstandig, en is tipe 2-diabetes (’n onomkeerbare toestand) waarskynlik jou voorland. Beroerte, hartsiektes en vetsug word ook gekoppel aan insulienweerstandigheid. Jou dokter sal medisyne aanbeveel, maar gebruik gerus Antagolin, ’n natuurlike produk wat beskikbaar is sonder voorskrif, saam met die voorskrifmedisyne. Stadig met die stysel en suiker, en begin oefen.

Lees ook: Lae energievlakke? Lees hier

Lees ook: Wat jy van diabetes moet weet

33 Volg dr. Benn se reël van twee weke: Sy sê niemand behoort langer as twee weke met enige vreemde simptome rond te loop voordat hulle ’n dokter raadpleeg nie.

Maerder

Wees – of lyk– só maerder

34 Jy weet al jy behoort elke dag minstens twee liter water te drink om te keer dat jou liggaam onnodig vog terughou. Maar het jy geweet bosbessiesap (cranberry juice), in gelyke dele verdun met water saam met jou ontbyt, laat opgeboude vog vinnig verdwyn? Drink daagliks ook minstens 1 000 mg vitamien C. Dit help om jou minder geswel te laat lyk en sal jou immuunstelsel versterk.

Lees ook: 5 van ons beste ontbytresepte

Foto: pexels.com

35 Borsel jou lyf vóór jy stort met ’n sagte borsel – dit help om van gifstowwe deur die vel ontslae te raak, wat ook swelling en waterophoping sal verminder.

36 Jy hoef nie porsies te weeg om gewig te verloor nie. Volg net die 70/30-reël as jy opskep: 70% groente, 30% proteïene.

37 Belê in ’n goeie, stywe broekie vir daardie nommer waarin jy regtig op jou beste wil lyk. (Jy’s in goeie geselskap: ’n gewese Mej. Suid-Afrika het al in ’n tydskrifonderhoud erken dat sy by haar ma die waarde van ’n goeie step-in geleer het, veral nadat sy ma geword het.)

38 Nog ’n klerewenk uit Ouma se kas: ’n onderrok toor rolle weg.

39 Moenie ná sesuur saans stysel eet nie.

Lees ook: Koolhidrate: die groot wit gevaar?

40 Natuurlik kan jy tussenin eet, maar eet slim. Groentestokkies, neute, biltong en rou neute en sade (geroosterdes bevat ekstra vette).

Lees ook: 33 gesonde kosse sónder suiker vir jou en jou kinders

41 Al gewonder hoeveel oefening per week nodig is om jou maerder te maak? Wel, dis 309 minute per week, sê navorsers aan die Universiteit van Pittsburg. En vir die heel beste resultate behoort jy dit te verdeel tussen ses dae, wat ’n oefensessie van 50 tot 55 minute per dag beteken. En wat is die heel beste oefening vir gewig verloor? Stap teen ’n stywe pas!

42 Lag meer – Britse navorsing het gewys ’n skaterlag kan help dat jy een tot twee kilogram vet per jaar verbrand.

43 Weg met gaskoeldrank (ook die dieetsoort, want dit bevat aspartaam, wat baie ongesond is). As jy die borrelrigheid van gaskoeldrank mis, meng suiwer vrugtesap met mineraalwater met borrels of met sodawater.

44 Die heel doeltreffendste manier om ’n plat magie te kry, is om die spier wat jou maag beheer, gereeld in te trek. Of jy sit of staan, probeer jou transversis abdominis deur jou naeltjie na jou ruggraat te trek. Hou vir tien sekondes, en herhaal so dikwels moontlik. Begin sommer jou dag daarmee, terwyl jy nog in die bed lê, en herhaal waar jy ook al sit of staan deur die dag.

Lees ook: 6 oefeninge vir vroue bo 40

45 Ons gee maklik R50 op koek en tee uit, maar “het nie geld” as dit kom by dinge soos ’n gesigbehandeling of pedikuur nie. Bespreek een spa-dag elke twee maande saam met jou vriendin, eerder as om mekaar twee keer per week vir koffie te ontmoet (dit hou ook sommer die kilogramme in toom). Min dinge laat jou so begeerlik voel soos ’n goed versorgde lyf, selfs al is joune nie perfek nie.

46 Gooi weg jou stoel en sit op ’n oefenbal, ook voor die rekenaar en TV. Dis uitstekende oefening vir jou boud- en bobeenspiere.

Lees ook: Oefen vir die regte postuur

47 Moenie ’n alles-of-niks benadering volg nie. As jy een blokkie sjokolade eet, moenie dink jy het nou klaar oortree en kan netsowel die hele blok opeet nie.

48 Vat vier dae, en verander jou lewe. So skryf selfhelp-ghoeroe en skrywer Martha Beck in haar boek The 4 Day Win (Piatkus). Sy sê jy het net vier dae nodig om jou kop oor enigiets, ook dieet en kos, te verander. Haar beginsel is eenvoudig: Voeg elke vier dae ’n nuwe (maklike) doelwit by jou eetplan, en pas dit vir vier dae lank toe voor jy die volgende een bysit. Kies iets makliks, soos om elke dag ’n groen groente te eet, een lepel suiker minder in jou tee te drink of nie ná ’n sekere tyd te eet nie. Ná 21 dae gaan jy altesaam vyf nuwe patrone in jou geen stysel ná sesuur saans nie eetplan/leefstyl gevestig hê, en dan word dit ’n lewenswyse. Beck het haar eie raad gevolg en glo die afgelope vyf jaar sonder enige dieet of spesiale pogings omtrent 12 kg afgeskud.

49 Beck meen ook dis moontlik om jou aptyt “af te skakel”. Doen dit deur minder geurmiddels by jou kos te gooi. Jou lyf roep gouer halt met eenvoudiger kos, maar vet, ekstra botter, geprosesseerde kos, souse en komplekse smake laat ons agter die smaak aan eet eerder as agter die honger. Eet ’n aartappel sonder botter pleks van skyfies as jy uiteet, of geroosterde hoender eerder as gekrummelde hoender.

Foto: rooi rose

Gelukkiger

Kies jou prioriteite

50 Doelwitte is jou eerste sleutel tot sukses. Maar pasop dat doelwitte nie met mekaar bots nie – as jy bevordering by die werk wil hê en ure oortyd werk, moet jy besef jy gaan nie baie gesinstyd of tyd vir jouself hê nie. Sodra jy dit verstaan, sal jy 80% meer tevrede voel, skryf David Niven in The 100 Simple Secrets of Happy People (Capstone).

51 Vier dit as jy ’n doelwit bereik het. Navorsing wys mense wat dit doen, is 50% gelukkiger met hulself en wat hulle bereik het as dié wat nooit stop om dit te vier nie.

52 Skakel die TV af. Jy het meer tyd vir jouself, en navorsing het bewys dat ons tevredenheid statisties gesproke met 5% afneem vir elke uur per dag wat ons voor die kassie bestee. Hoekom? Want ons begeer meer: besittings, ’n mooier lyf, ’n gelukkiger lewe. En met al die negatiewe dinge op televisie, soos misdaad en geweld, halveer ons ons kanse op geluk.

53 Oefening verlaag streshormone soos kortisol, en laat endorfiene, of goedvoelhormone, se vlakke styg. Swem, joga en stap is die beste maniere om te ontspan. Te veel kortisol kan jou ook vinniger laat gewig aansit.

Lees ook: Swem: die perfekte oefening

54 Asem in teen stres, sê dr. Andrew Weil. Sy 4-7-8 asemhalingstegniek is ’n natuurlike kalmeermiddel, en hoe gereelder jy dit doen, hoe kragtiger word die uitwerking. Doen dit minstens twee maal per dag, maar moenie in die eerste maand meer as vier op ’n slag doen nie. (Dit kan jou aanvanklik dalk effe lighoofdig laat voel.) Jy kan dit enige plek en enige tyd doen, maar sit met jou rug regop terwyl jy die tegniek aanleer. Dit werk so:

– Plaas die punt van jou tong teen die tandvleis net agter jou boonste voortande, en hou dit daar dwarsdeur die oefening.
– Jy gaan uitasem rondom jou tong. Blaas al jou asem uit deur jou oop mond – maak ’n whoosh-geluid. Maak nou jou mond toe, en asem in deur jou neus terwyl jy in jou kop tot by vier tel.
– Hou jou asem op vir sewe tellings.
– Blaas alles uit deur jou oop mond terwyl jy weer die whoosh-geluid maak en tot by agt tel.
– Herhaal altesaam vier keer.

Lees ook: 10 wenke teen stres wat werk

55 Hou op om koerant te lees en TV-nuus te kyk. Lees eerder die belangrikste nuus van die dag aanlyn op ’n nuuswebwerf, want daar het jy groter keuse oor wat jy wil lees, en word jy ontstellende foto’s gespaar. Jy kan ook heel ingelig bly met radionuus. Lees eerder ’n opbouende boek of ’n goeie tydskrif.

Lees ook: Kies die regte leeslampie

56 As jy sukkel om te slaap, probeer om vir die laaste twee uur voor slaaptyd gedempte lig of kerslig om jou te hê. Ons liggame vervaardig melatonien om ons te help om te slaap, maar kan dit nie doen as ons heeltyd voor slaaptyd in helder lig of voor die rekenaar of televisie is nie.

Lees ook: 6 slaapprobleme, 6 oplossings

57 Maak jou huis jou hawe. Omring jou met die goed waarvan jy hou: musiek, kerse, mooi blomme, ’n vrolike tuin, skilderye, gemaklike banke, kleurryke mure. Ons is te geneig om heel laaste geld aan ons leefruimte te bestee.

Lees ook: 10 lapwerkpatrone vir jou huis

58 Kate Emmerson, bekende leefstylafrigter, sê dis belangrik om jou dag op ’n positiewe noot te begin. “Dit bepaal die atmosfeer vir jou hele dag. Sê dankie vir die mooi dag, bid of sê jou motto hardop.”

59 Help elke dag van jou lewe één mens met iets – enigiets. “Dit sal nie net daardie mens se lewe verander nie, maar joune ook,” sê Kate.

60 Besef daar is sekere dinge waaroor jy geen beheer het nie (soos die rentekoers, spitsverkeer, jou baas se buie). Hoe gouer jy dit aanvaar, hoe minder stres.

61 Verban die woord móét uit jou woordeskat. Sodra jy voel jy móét iets doen, voel jy skuldig as jy dit nie doen nie. En skuldgevoelens lei tot stres. Sê eerder “ek wil” as “ek móét” – so herprogrammeer jy stresvolle en negatiewe denkpatrone.

62 Begin ’n dankbaarheidsjoernaal en skryf elke dag vyf goed neer waarvoor jy dankbaar is of wat jou gelukkiger laat voel. Wees elke dag op die uitkyk vir iets nuuts: ’n lentebloeisel, ’n pittige koerantverkoper, goeie gesondheid, ’n staatmaker vriendin … So leer kyk jy na die lewe met ’n pienk bril.

Lees ook: Prikkelplanne om joernaal te hou

Foto: rooi rose

Leer organiseer

Dit maak alles makliker

63 Kry ’n groot swartbord of aantekeningbord waarop jy jou gesin se skedule vir die week kan aanbring. So weet jy met ’n enkele oogopslag wie wanneer waar moet wees en wie wat moet doen.

64 Steek jou trots in jou sak en vra hulp as jy nie alles kan doen nie. Vra ’n vriendin om ’n kind op- of af te laai, of brood en melk te koop as sy in elk geval by ’n winkel stop voor sy na jou toe kom. Dit kan jou baie tyd (en stres) spaar.

65 Leer delegeer – ’n goeie bestuurder is juis die een wat nie alles self doen nie, maar sy kollegas en juniors se talente en energie inspan.

Lees ook: Vroue kán superhelde wees

66 ’n Oorvol e-pos-inmandjie steel tyd en energie, maan Kate. “Dit laat jou oorweldig voel om elke keer in honderde e-posse vas te kyk. Vee uit waarmee jy klaar is.” En wees meer radikaal in 2009 met jou e-posse. “Lees net twee maal per dag e-posse. Stel ’n outomatiese antwoord op wat mense inlig oor watter tye jy e-posse lees en op hul e-posse sal reageer. As dit dringend is, sal hulle jou bel.”

67 Moenie alles hou wat jy kry nie. “As jy nie van ’n geskenk hou nie, gee dit weg. Dit verander niks aan die bedoeling van die gewer nie, en jy hoef nie skuldig te voel nie.”

Lees ook: Leef klottervry

68 Maak een klerekas skoon voordat die kerkklokke ’n nuwe jaar inlui. “Dit sal jou die jaar laat begin met meer ruimte – letterlik,” sê Kate. “Gee weg wat jy lank nie gedra het nie – dit sal jou ook goed laat voel. En as jy die jaar gaan klere koop, vra jou elke keer eers af of jy dit werklik nodig het. Sal dit werklik waarde tot jou lewe toevoeg?”

Foto: rooi rose

69 Hou dagboek van belangrike datums en gebeure, maar pasop vir te veel lysies. ’n Lysie wat nie afgemerk word nie, kan jou weer opsaal met onnodige skuldgevoelens.

70 En ons topwenk? Leer ’n nuwe woord: “Nee!” Jy kompliseer jou lewe en verdonker jou gemoed omdat jy te maklik ja sê vir wat ook al, of dit nog werk is of sosiale verpligtinge waarvoor jy nie regtig lus is nie.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

13 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.