kategorieë: InspirasieJou lewe

’n Onderneming wat blom

Deur Elna Rossouw. Foto’s: Verskaf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dit is ’n doodgewone Donderdagmiddag, maar dit voel vir my asof ek kruisbeen op die grond saam met Adene Nieuwoudt in ’n veld vol blomme sit. Ons gesels egter per WhatsApp. Sy’s in haar kantoor op Adene’s Farm Flowers, op die plaas Platvlei net buite Wolseley in die Breederiviervallei en ek is Johannesburg.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Dit is al ’n hele rukkie dat ek my verkyk aan die pragtige foto’s van die bosse blomme wat die modelmooi Adene daagliks op Instagram laai. Hoe sy haar blommeplaas bemark; raad gee oor hoe en wanneer om watter saad en wortelknolle te plant en haar volgelinge op hoogte van die seisoene op ’n blomplaas hou.

Adene se liefde vir die natuur, die feit dat sy buite wil wees én werk het haar aangespoor om snyblomme vir die Suid-Afrikaanse mark te kweek. Maar sy het ook vir haar man, Andrew, vóór hul troue gesê sy wil haar eie onderneming op die plaas vestig. Sy wil iets moois en lekkers uit die grond haal. Haar eie inkomste verdien. Sy het gedink sy wil groente plant.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Só het Andrew Nieuwoudt (wie se familie al jare met vrugte in die distrik boer) sewe jaar gelede een oggend op ’n trekker geklim en het hy ’n “hele rugbyveld” agter die huis omgeploeg. “Ek moet erken, ek was aanvanklik oorweldig met die grootte van die groentetuin. Maar ek is Agrimark toe en het  hulle letterlik van ál hul saad op die rakke gestroop!”

Die groente het gedy, en kort voor lank kon Adene mandjiesvol murgpampoentjies, tamaties, mielies, beet en boontjies – “enigiets wat jy in ’n groentewinkel sou soek” − oes. Laatmiddag het sy by haar agterdeur uitgestap en groente vir haar gesin se aandete gaan pluk. Maar daar was té veel. “Ek het groente vir ons werksmense begin gee en sommer op die ingewing van die oomblik foto’s geneem en dit op Facebook gelaai.” Die reaksie was oorweldigend.

Sy het egter besef daar is nie ’n mark vir nóg ’n groenteboer in die Wes-Kaap nie. Sy sou iets anders, iets slimmers, moes doen.

“Omdat ek tien jaar lank troufoto’s geneem het, het ek geweet bloemiste sukkel om iets anders as lelies of rose vir bruidsruikers en troues te kry. Twee goeie vriendinne, Jeanette Heyns en Anli Wahl, het my oortuig om blomsaad tussen die groente te plant. Jeanette het amaranthus– en nigella-saad uit Holland gebring, en die mooiste blomme het tussen die beet en die boontjies opgekom.” Adene het die varkbos of voëlduisendknop, en vinkelblom se anderste mooi op haar iPhone vasgevang, en op Facebook gelaai. (“Ek neem vandag nog al my foto’s vir die webwerf met my foon – ek ‘sien’ sommer ’n foto en vra die naaste een om die knoppie te druk.”) Haar foon het nie ophou lui nie. “Ek het besef daar is ’n ontsettende groot mark vir ongewone snyblomme wat plaaslik gekweek word.”

Vandag is Adene en Andrew gelyke vennote in Adene’s Farm Flowers. Hulle lewer weekliks duisende varsgeplukte blomme aan verskillende handelaars. Die geheim vir sukses? “Die blomme is nie langer as 24 uur in ons koelkamers voor dit afgelewer word nie.” Dit verg fyn beplanning en is harde werk, maar dit voel elke keer vir Adene asof sy ’n geskenk vir iemand gee. “Die blomme is só mooi. Dit is vir my net vreugde om die blomme te kweek.”

Die onderneming word aanlyn bedryf. Die plaas verskaf werksgeleenthede vir meer as 40 vroue en mans. Die vroue sorg hoofsaaklik dat die bestellings uitgevoer word en hou kop met die beplanning, terwyl die mans die landerye bewerk, die blomme pluk en aflewer.

Adene is kieskeurig oor wie sy aanstel. “Ek hou van vriendelike mense. Mense wat maklik lag. Iemand wat positief van geaardheid is, die buitelewe geniet en nie bang is vir harde werk nie.”

Om “verskriklik hard te werk, om te alle tye álles te gee, en nie bang te wees om jou hande vuil te kry nie” is bo-aan Adene se lysie om sukses te behaal. “Jy moet ook ’n visie en doel hê waarna jy streef. Vir haar is “amper die belangrikste dat jy goed met mense klaarkom, want na alles is dit die mense om jou wat jou sukses bepaal.”

Sy dink haar sterkste karaktereienskappe is haar positiewe geaardheid, dat geen uitdaging te groot is nie, en dat sy kan vasbyt. “Andrew deel my waagmoed. Ons neem dikwels vinnige besluite, en was nog nooit spyt nie. Ons is ook dankbaar dat ons nog nooit geld by die bank geleen het om uit te brei of groter te word nie. As een deur toegaan, maak ’n ander oop, en is daar ’n nuwe geleentheid. Jy moet net soek daarvoor.”

Planne vir die toekoms is om nog blomwinkels oop te maak. “Die Oranjezicht-mark en die een by Stellenbosch Square het vir ons nuwe kopers gebring. Ons oopdae en werkswinkels is treffers. Die verkoop van bolle en sade doen goed. Ons is baie dankbaar.” Sy beplan ook aan ’n klerereeks: Rokke wat lieflik op blombedrukte Franse linne pas … Dit kom ná die sukses van die blomversierde beddegoed van drie ontwerpers (Adene was een) wat Mr Price verlede jaar verkoop het.

Adene is ook ontsettend opgewonde oor die 40 000 pinkersterrose (peonies) wat hulle aan die begin van die jaar op huurgrond hoog teen die hange van die Matroosberge geplant het.

“Dit is eintlik ’n snaakse storie. Ek wou pinksterrose invoer toe ’n Europese kweker my vra of ek dit nie híér wil kweek en uitvoer nie. Ek het eers nee gesê, hy verstaan my verkeerd. ’n Uur later was Andrew in my kantoor, ons het vir mekaar gekyk, geglimlag en gesê: ‘Hoekom nie!’” Begin volgende jaar word nog 40 000 pinksterrose geplant. Sy kan nie wag vir die eerste oes nie.

Vra jy haar oor terugslae sedert sy met blomme begin boer het, het sy nie dadelik ’n antwoord nie. “Covid het ons gekniehalter, maar eerder as om die blomme in die koelkamers te laat vrek, het ons dit by ouetehuise laat aflaai en op straat uitgedeel. Ons het wonderbaarlik oorleef. Ek glo hoe meer jy gee, hoe meer kry jy terug.”

Maar alles in Adene se lewe is nie maanskyn en rose nie. Voor Covid het sy Graves se siekte (’n outo-immuunsiekte wat die skildklier aantas en na ’n te hoë metabolisme lei) opgedoen. “Ek was gedurig moeg. Ek kon nie een voet voor die ander sit nie.” Getrou aan haar aard (“Ek kan seker ’n doktorsgraad skryf oor die kweek van blomme,” spot sy) het sy alles oor outo-immuunsiektes opgelees, en doelbewus gesond begin leef. “Dis al langer as vyf jaar dat ek net vars groente en vrugte eet, niks met preserveermiddels in my mond steek nie, en slegs die vleis van vrylopende diere wat organies grootgemaak is, eet. Ek glo ek het my gesond geëet.”

In die somer is Adene soggens sesuur buite. Sy stap kilometers op die plaas en ry saam met haar dogter Eva (12) fiets. Sy en Andrew deel ook Eva en Samuel (9) se skool- en sportverpligtinge. “Gelukkig is ons ook gelyke vennote in ons huwelik. As ek saans kosmaak, help hy hulle met huiswerk by die kombuistafel.”

As Adene wil ontspan, lees sy ’n boek. “Nie ’n roman nie, eerder ’n boek oor gesondheid of sielkunde. Ek wil verstaan hoe die liggaam werk, hoe mense dink en doen.” Aangesien haar ma ’n sielkundige is en haar pa al jare lank ’n prokureur in die Paarl is, is Adene se leessmaak nie vreemd nie.

Ek vra wat haar gunstelingblom is. Sonder om ’n oomblik te huiwer, sê sy: “Dahlias.” “Dit is vir my net ’n ongelooflike mooi geometriese blom.” En watter kleur dahlias sal sy vir haar eie huis pluk?  “Café au lait, Peaches en Frost Nip. Blomme in die kleure van ’n salm slaan my asem weg.”

Haar Kerstafel sal tien teen een met Krismisrose oorlaai wees. “’n Krismisroos is darem netso mooi!”

Wanneer Adene se foto’s ’n week of wat later in my e-posmandjie land, wens ek ek kon self ’n gerf blomme op Platvlei gaan pluk. Met ’n kunstenaarsoog, hope energie, vasberadenheid en geesdrif, het Adene Nieuwoudt dit reggekry om die Suid-Afrikaanse blommemark op sy kop te keer. Sy blom behoorlik in die Breederiviervallei.

Met die skryf van dié artikel, het Adene’s Farm Flowers reeds 105 000 volgelinge op Instagram gehad. Die webwerf (www.adeneflowers.co.za) is vol lekkerleesfeite oor blomme wat nou beskikbaar is, hoe om bolle of saad te bestel en te plant, nuttige plantwenke, en inligting oor werkwinkels en oopdae op die plaas. As jy dus nie self by Adene’s Farm Flowers neffens Wolseley kan uitkom nie, is die webwerf ’n elektroniese lushof van blomme en kleure.

rooi rose en Ontbytsake op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus in 2023 op ’n nuwe reeks – vrouesake. Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.

Lees ook: Sy skrik nie vir ’n mikrofoon, kamera óf raadsaal nie

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Is dit hoekom jy maagpyn het?

Waar pyn jou maag? Die presiese plek waar jy die pyn ervaar, kan aandui wat…

3 days Gelede

Hoe om jou dogter groot te maak om sterk en vol selfvertroue te wees

In ons moderne wêreld, waar die uiterlike voorkoms blyk om al hoe belangriker te word,…

3 days Gelede

Sauvignon Blanc Dag op prettige manier gevier

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts Dis hoe die Suid-Afrikaanse wynbedryf die afgelope naweek Internasionale…

3 days Gelede

Willem Botha se nuwe liedjie kry die partytjie aan die gang

Veelsydigheid is Willem se middelnaam, maar musiek bly sy passie. Hierdie enkelsnit is sy eerstevrystelling…

3 days Gelede

Lemoen-ontbytkoekies

Die koekies is heerlik klam en maklik om te maak. Jy kan hulle sonder die…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Nicole en Hennie Bosman oor ‘Wanderlus’ se jongste seisoen

Hennie en Nicole Bosman van Franschhoek, ’n paartjie wie se daaglikse lewe uit die see,…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.