kategorieë: Verhoudings

Knip die knor kort

Ons samelewing is skaamteloos jeugbehep. Om aan “die verkeerde kant” van sestig of sewentig te wees klink vir jonger mense min of meer so aanloklik soos ’n voortslepende siekte.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die wrede werklikheid is natuurlik dat elke mens wat lank genoeg leef, dié mylpale gaan bereik. Die ouderdom slaan niemand oor nie. Twee derdes van almal wat in die ganse geskiedenis van die mensdom die ouderdom van 65 gehaal het, leef vandag. Aftrede en ’n ruim porsie jare daarna is betreklik nuwe verskynsels.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Wat die grasievolle hantering daarvan betref, het ons nog baie om te leer – ons verstaan kwalik die probleme daaraan verbonde. Hoewel “knorrige ou mans” nie tot ons era beperk is nie, maak die huidige beskouing van ouer mense dit nie noodwendig maklik om ’n opgewekte bestaan te voer nie. Dié artikel fokus op oorsake van ongelukkigheid by ouer mans en hoe dit benader kan word – met erkenning aan die feit dat vroue en jongmense ook kort van draad kan wees!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Wat maak dit moeilik?

Met aftrede kry talle mans ’n lang “vakansie”. Skielik kan hulle laat slaap, daglank gholf speel, ure voor skerms deurbring en tyd aan hul lewensmaats, kinders en vriende bestee. Hul nuwe bestaan verskil ingrypend van die vorige. En dis juis die probleem.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“’n Man word wat hy doen,” sê dr. Piet Muller, Pretoriase toekomskundige en aanbieder van seminare oor suksesvolle aftrede. “Hy vereenselwig hom met sy identiteit as ’n ekonoom, ingenieur of polisieman. Wanneer hy aftree, kan hy nie meer sê: ‘Ek is ’n radio-omroeper nie.’ Dit verander na: ‘Ek was ’n radio-omroeper.’ Sy persona verkrummel oornag.

“Was hy boonop in ’n bestuurs- of magsposisie, kan hy nie meer die gang van gebeure bepaal of opdragte uitdeel nie. Die man wat ’n invloedryke posisie in ’n groot korporasie beklee het, moet nou by die ysterwarewinkel agter in die ry val en sy beurt afwag. “Dis waarom dit nie ongewoon is dat sommige mans binne vyf tot sewe jaar ná aftrede selfmoord pleeg, van hul vroue skei, of aan een of ander middel verslaaf raak nie. “’n Vrou, daarenteen, speel lewenslank verskillende rolle. Sy bind die geslagte aan mekaar. Wanneer die kinders die nes verlaat, wil sy haar stempel dikwels behoorlik op die samelewing afdruk. En as sy aftree, hou sy steeds ’n huishouding aan die gang. Sy is meestal jonger as haar wederhelf; sy wil nog reis en dans terwyl haar man dalk voor die TV sit en wag om dood te gaan.

“In my seminare oor geslaagde aftrede het vroue al gesê die lewe saam met ’n man wat skielik sy identiteit en lewensdoel verloor het, is ‘suiwer hel’. Een vrou sê haar man hou elke beweging wat sy maak met ’n valkoog dop. Wanneer sy die tafel vir gaste dek, móét hy iets verander – al ruil hy net die sout- en peperpot om.

“Die lewe ná aftrede kan ’n man so onkant betrap en buite beheer laat voel dat ek vroue dikwels waarsku: ‘Besluit voor jou man se aftrede of jy kans sien om die toekoms saam met hom deur te bring. As die antwoord ’nee’ is, sorg dat julle voor sy aftreedatum skei. Dis jou laaste kans om 50% van sy pensioen te kry.

“In Japan is daar ’n nuwe siekte: Retired Husband Syndrome of RHS. Vroue sê hul verhoudings begin met mooi woordjies, liefdesbriewe en ’n vryery onder die kersiebloeisels. Dan sluk ’n groot korporasie hul mans lewendig in en spoeg hom net saans en op sy verlofdae uit. Sy gesin bou hul eie, afsonderlike lewe. Tree hy af, is hy heeldag tuis en verwag hy dat sy vrou die leë ure vir hom moet vul. Vroue met RHS verloor hul hare, slaan in vlamme uit en ontwikkel ander psigosomatiese simptome. “In talle Suid-Afrikaanse huishoudings het die mans ook skaars tyd om met hul vroue, kinders en vriende deur te bring. Die verlies aan sin wat aftrede meebring, word vererger deurdat hulle afgesny voel van dié mense met wie hulle veronderstel is om nou bande te hê. Voeg hierby ’n afname in fisieke krag en gesondheid, en die prentjie lyk donker.”

Hoe kan hierdie kwessie opgelos word?

Mans moet betyds vir hul aftrede beplan,” sê dr. Muller. “Hulle moet vooraf besluit hoe hulle steeds ’n bydrae kan lewer en betekenis aan hul bestaan gaan gee. Stokperdjies, projekte, ’n klein onderneming of selfs ’n nuwe loopbaan?”

Afgetrede mans se dae moet struktuur hê. “Jy kan net soveel ure lank gholf speel. Jare gelede het ek gelees hoe ’n voormalige president van Ierland en sy vrou met sy aftrede deel geword het van ’n Benediktynse klooster. Hier word ’n leerplan vir heiligmaking met streng daaglikse roosters gevolg.

“Baie mense organiseer van jongs af hul uiterlike lewe maar gee geen aandag aan hul innerlike lewe nie. Ouer word, veral wanneer jou sintuie swakker funksioneer, dwing jou binnetoe. Meditasie is die beste manier om met jou binnekant in aanraking te kom. Dit verlaag jou breingolwe sodat jy ’n kalm ruimte betree. Doen jy dit gereeld, leer jy om in die oomblik te leef, selfs wanneer jy nie besig is om te mediteer nie. Daar is min dinge wat jou lewensgehalte só verhoog soos mindful living – volle bewustheid van die hier en nou.”

’n Vars konsep

Twee algemene beelde van aftrede wat ons dikwels sien, is neerdrukkende foto’s van afgeleefde mense met knoetserige hande in ’n ouetehuis en idilliese foto’s van ’n stralende ouer paartjie op ’n strand,” sê Alan Maguire van Kaapstad. “Albei is vals, want albei sê: ‘Hierdie mense speel nie meer ’n rol in die gewone lewe nie.’

“Stel jou voor: jy het vyftig jaar lank gewerk en hope lewenservaring verwerf, en nou wil niemand na jou luister nie. Niemand gee om nie. Dit alleen is genoeg om jou knorrig te maak!”

Vir Alan is die deurslaggewende vraag: wat kan ek ná aftrede tot die gemeenskap bydra?

“Ek help mense wat op aftrede staan om dié kwessie uit te pluis. Ek ondersteun ook al jare lank jong entrepreneurs wat besighede wil vestig en laat groei. Ek voel sterk daaroor dat ouer mense dwarsoor ouderdomsgrense by ander betrokke moet bly. “Die Kwakers, ’n Amerikaanse geloofsgroep, het die konsep van eldering bedink. Dit beteken dat ouer mense die volgende generasie vir die lewe help voorberei. In dié vorm van mentorskap speel kommunikasie ’n groot rol.

“Die grondslag van eldering is nie soseer wat jy doen nie, maar being, of wie jy is. Ouer mense het tyd om aan jonger mense te bestee, en hulle beskik oor wysheid. Wanneer jy kennis oordra, vertel jy vir ander hoe sake behoort te werk. Wysheid het te make met die gehalte van die vrae wat jy vra sodat ander hul eie antwoorde kan vind.

“Ek kuier gereeld by ’n koffiewinkel in Kalkbaai, ’n bymekaarkomplek vir branderplankryers. Ek het die surfers se taal aangeleer en nou dink hulle ek weet waarvan ek praat! Ek vra baie vrae en luister na hul antwoorde. Een van die jongmense het ’n keer vir my vrou gesê: ‘Weet jy, Alan is ’n legende’ – en dis net omdat ek my volle aandag aan hulle gee. Om op hierdie manier tussen jonger mense te ‘wees’ is ongelooflik kragtig. Meestal is ons te besig daarvoor. Met wie praat hierdie jongmense? Wie is daar om te luister?

Ouer mense het ’n massiewe rol om te speel. “In die helde-reise wat ons in flieks soos Star Wars of Harry Potter teëkom, maak die held tipies kontak met ’n ouer man, sê maar Dumbledore, wat vir hom ’n amulet, ’n woord, of ’n kloppie op die rug gee. Hierdie ontmoeting stel die held in staat om sy taak uit te voer. Die ouer man verdwyn weer, maar sonder hierdie ontmoeting sou die held nie sy quest kon voltooi nie.” Om ’n elder te kan wees, moet jy met jou nuwe lewensfase vrede maak.

“Mense wat vroeër gemiddeld vier uur per dag in hul lewensmaat se geselskap deurgebring het, is nou 16 uur per dag saam. Dié verhouding moet opnuut onderhandel word, anders lei dit dalk tot moord!

“Die wêreld het ouer mense se wysheid net so nodig soos wat ouer mense begeer om te kan ‘teruggee’. Dis ’n volmaakte lewenskring.”

Lees ook: Wat jy moet weet as jou maat Aspergers het

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Is dit hoekom jy maagpyn het?

Waar pyn jou maag? Die presiese plek waar jy die pyn ervaar, kan aandui wat…

3 days Gelede

Hoe om jou dogter groot te maak om sterk en vol selfvertroue te wees

In ons moderne wêreld, waar die uiterlike voorkoms blyk om al hoe belangriker te word,…

3 days Gelede

Sauvignon Blanc Dag op prettige manier gevier

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts Dis hoe die Suid-Afrikaanse wynbedryf die afgelope naweek Internasionale…

3 days Gelede

Willem Botha se nuwe liedjie kry die partytjie aan die gang

Veelsydigheid is Willem se middelnaam, maar musiek bly sy passie. Hierdie enkelsnit is sy eerstevrystelling…

3 days Gelede

Lemoen-ontbytkoekies

Die koekies is heerlik klam en maklik om te maak. Jy kan hulle sonder die…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Nicole en Hennie Bosman oor ‘Wanderlus’ se jongste seisoen

Hennie en Nicole Bosman van Franschhoek, ’n paartjie wie se daaglikse lewe uit die see,…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.